Foto’s ER Lombard, geneem by Môredou Interiors

Projeknotas
• Gebruik een potjie Stencil of Paris vir elke vierkante meter wat jy wil stensil.
• Deur krytverf by Stencil of Paris te voeg, kleur jy nie net die pasta nie, maar jy maak die finale oppervlak ook meer wasbaar. 
• Dit neem Stencil of Paris 2 tot 3 uur om heeltemal droog te word, afhangend van hoe dik die pasta aangewend is. Die pasta moet ook heeltemal droog wees voordat jy enige meubels daaroor plaas. 
• Vir skoonmaak-doeleindes van die gestensilde vloer word ’n veeldoelige huishoudelike reiniger aanbeveel.

Wat jy nodig het

• 750 ml lakverdunner

• kaasdoek 

• maskeerband

• stensil (die ontwerp word vier keer herhaal om die mandala te voltooi)

• vier 290 ml-potjies Stencil of Paris

• 40 ml Tjhoko Paint in die kleur Da’vid

• 5 cm-verfskraper

Só maak jy ...

1 Maak die sement-oppervlak goed skoon met kaasdoek gedoop in lakverdunner en gee dit 20–40 minute kans om heeltemal droog te word.

2 Posisioneer die stensil op die vloer (dis belangrik dat jy die volle grootte van die ontwerp in ag neem). Plak dit vas met maskeerband. 

3 Meng 10 ml Tjhoko Paint in die kleur Da’vid by ’n potjie Stencil of Paris.

4 Wend dit dan mooi egalig met ’n paletmes of verfskraper oor die stensil aan. Besluit self hoe dik jy die pastamengsel wil hê.

5 Verwyder die stensil versigtig terwyl die pasta nog nat is. Was die stensil en skraper deeglik in louwarm water nadat jy elke kwart van jou mandala gestensil het en wag tot die pasta heeltemal droog is voor jy die volgende kwart stensil. Herhaal stap 2 tot 5 om die motief te voltooi.