Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS

Harde werk 6/10

Vaardigheidsvlak 6/10

Tyd nodig ±6uur

Doen dit self vir ± R855:

Verf R425, stensil R60, maskeerband R100, seëlaar R270

PROJEKNOTAS

• Die vloeroppervlak van dié badkamer is 5 m². Pas die materiaal en koste aan soos nodig vir jou eie projek.

• Ter voorbereiding is die teëls teen die kant van die bad afgekap en die oppervlak saam met die vloer met sement afgewerk; die muurteëls is behou en geverf.

• Vir die mooimaak is besluit op ’n netjiese omranding vir die vloer, asook ’n stensiltegniek op die vloer en teen die bad se rand.

[MASKEERBAND-WENKE]

• Werk van buite na binne wanneer jy jou vloer se omranding met maskeerband merk, dan het jy beter beheer oor die patroon.

• Druk die rande van die maskeerband goed vas sodat verf nie daaronder kan insyfer nie.

• Gebruik die breë maskeerband om die spasie tussen die lyne eweredig te kry. Verwyder dit nadat die tweede lyn geplak is en herhaal met die volgende lyn.

Voor

Wat jy nodig het (buiten hope geduld!)

INKOPIELYS

• maskeerband in drie breedtes: 12 mm, 24 mm en 48 mm

• Tjhoko Paint in die kleure Matt Black en Sherif’s Stone

• Duram Showfloor-vloerverf in die kleur Clear

• stensil

GEREEDSKAP

• maatband

• verfkwas

• sponsroller

• kunstenaarskwassie vir insnywerk

Só maak jy...

1 Besluit hoe vêr van die muur die omranding moet wees en merk die patroon met potlood op die sementvloer. Plak nou die maskeerband volgens dié merke (sien maskeerband-wenke). Onthou, waar die maskeerband is, gaan die sement wys nadat jy geverf het – die liggrys strepe wat jy in die ná-foto sien, is die sement, nie liggrys verf nie.

2 Verf die stroke een kleur op ’n slag. Gebruik die kunstenaarskwas en verf eers die “binnerand” van elke strook teen die maskeerband; doen in die buitenste strook ook netjiese insnywerk waar die vloer en muur bymekaarkom.

3 Gebruik nou die sponsroller en vul elke strook in met die bepaalde kleur.

4 Laat die verf droog word voor jy versigtig die maskeerband verwyder. Maak enige blapsies reg met die kunstenaarskwas.

5 Plaas nou die stensil waar jy die patroon wil hê; merk die posisie met jou potlood en plak die “voegbrylyne” met maskeerband om vier “teëls” voor te stel. Ons het ’n dubbele stensil gebruik vir ’n tweekleur-effek. Begin met die eerste stensil en verf die ontwerp in elke blok in Sherif’s Stone. Laat die verf droog word en plaas dan die tweede stensil netjies bo-op; verf met Matt Black.

6 Indien jy die stensilpatroon teen die bad se rand wil herhaal, soos hier, plak “voegbrylyne” met maskeerband en herhaal stap 5. Wag tot die stensils droog is en verf dan die res van die vloer in die kleur van jou keuse (Matt Black in dié geval).

Maak seker dat al die verf goed droog is voor jy die oppervlakke seël met Duram Showfloor Clear – gebruik ’n kwas hiervoor.

VERSKAFFERS

Brights Hardware

Paint & Decor 021 976 0114

Tjhoko Paint 011 708 3166

Whitehouse 021 461 7000