Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Charmaine en Vic Pretorius met hul dogter Lucindia en kleindogter Arlia (10)
WAAR Brackenfell, Kaapstad

As deel van die VIA-TV-program My Plek of Joune? (kanaal 147 op DStv), het die interieurontwerper en aanbieder Isabel Barends die taak gehad om ’n jong meisie se slaapkamer te omskep in ’n ruimte wat sy vir jare nog kan geniet – en dit moes binne een dag gebeur!

Isabel het besluit op ’n eenvoudige fokusmuur met drie vars, kontrasterende kleure wat steeds die oog sal vang: ’n sagte blou (Dulux Grecian Spa 4), heldergeel (Dulux Buttercup Fool 4) en trendy grys (Dulux Grey Steel). Die plafon is geverf met dieselfde grys as op die fokusmuur (Dulux Grey Steel).

“Dit was ’n tipiese meisiekamer met baie pienk en heelwat speelgoed,” meen Isabel . “Ons wou ’n vars voorkoms skep met ’n titsel vroulikheid wat aanklank sal vind by Arlia soos sy haar tienerjare ingaan. Ons het haar gunstelingkleur, akwablou, ingewerk, en soos voorgeskryf het ons geen pienk gebruik nie!”

Arlia se ma, Lucindia, voeg by: “Voor dit Arlia se kamer was, was dit ’n spaarkamer. Dit het nooit 100% soos haar eie gevoel nie; ons het meer van haar persoonlikheid ingebring. Nou pas die kleure perfek by haar: meisierig, maar met ’n kinkel!”

Die transformasie 

Kandelaber van Brights Hardware; kapstok, horlosie, strooikussings, bedkassie en mat van MRP Home; polkakol-kombers van Crazy oor Crafts

Gebruik verskillende skakerings van dieselfde kleur vir ’n sagter voorkoms. – Isabel

Verf só die driehoeke

1. As jou mure nie wit is nie, wend twee lae PVA-verf aan; Isabel het Dulux Luxurious Silk in White gebruik. 

2. Trek nou twee skuins lyne oor die muur; begin by die twee boonste hoeke van die muur. Die lyne hoef nie teen ’n presiese hoek te wees nie; dit hoef ook nie presies teen die onderste hoek te eindig nie (dit sal die muur in vier driehoeke verdeel, maar die boonste seksie sal te klein wees). Speel rond met die uitleg.  Trek een lyn tot onder teen die vloerlys; trek dan die ander net tot teen daardie eerste lyn.

3. Gebruik maskeerband om jou lyne af te baken en gebruik iets soos ’n kredietkaart om die maskeerband heeltemal plat te druk sodat die verf nie onderin loop nie.

4. Gebruik ’n kwas met ’n klein bietjie wit verf om die maskeerband te verseël voor jy ’n roller gebruik om elke kleurblok te verf. Wend twee tot drie lae aan; wag tot die huidige laag droog is voor jy die volgende een aanwend.

5. Wag tot die verf heeltemal droog is voor jy die maskeerband aftrek. 

Isabel het die oulike rolblindings gemaak om by die tema van die kamer te pas. Sy het die bopunt van die lap om ’n houtstok gedraai en dit toe vasgekram; jy kan Velcro pleks van kramme gebruik. Die houtstok is met skoewe aan die muur vasgemaak. Die blindings word met die hand opgerol en word met linte vasgemaak.

VERSKAFFERS