Foto's: Francois Oberholster | Stilering: Marian van Wyk 

Wie woon hier? Lizé-Marie Marais en Ian Taylor
WAAR: Port Elizabeth

Wanneer jy by die voordeur instap, sien jy ’n sierlike boog so eie aan huise uit dié era. Die dubbele vloerlyste was daar toe hulle die huis gekoop het – waarskynlik om vogskade in bedwang te hou. “Ons hou daarvan,” sê Lizé- Marie, “dis meer dramaties.”

Lizé-Marie Marais en Ian Taylor van die Baai wou nog altyd ’n ou huis hê: hoë plafonne, dik mure en groot vertrekke – mét ’n see-uitsig, ’seblief! Dis presies wat hulle gekry het in ’n statige ou Victoriaanse dame in die woonbuurt Mount Croix hier in Port Elizabeth.

“Die huis het ons aan ’n ou plaashuis laat dink,” vertel Lizé-Marie. “En toe ons die breë gang en kombuis sien, moes ons eenvoudig ’n aanbod maak.” In April 2014 het hulle die trotse eienaars van dié sestig jaar oue woning geword. Hulle was gaande oor die uitleg van die huis, en bou en breek was allermins op hul agenda. “Die enigste probleem was die eentonige wit mure en outydse geel vloerlyste en plafonne,” vertel Ian.

Veral dié geel kleur het hulle aan “Ouma” se huis laat dink, en nie op ’n manier wat jou hart warm maak nie! Die twee het die verfblikke nader getrek – met ’n plan: Hulle wou ’n huis skep waar gaste met die intrapslag sal weet hier bly onkonvensionele, kunstige mense. Danksy hul handewerk is die huis vandag kleurvol en propvol persoonlikheid; tog het hulle waar moontlik die oorspronklike statige gevoel van die ou gebou behou.

Lizé-Marie en Ian is immers nie die soort mense wat elke meubelstuk sommer voor die voet met ’n verfkwas bykom nie, veral nie as dit by hul ou meubels kom nie. Die resultaat is ’n goeie kombinasie van nuut en oud, vars en ingeleef.

Ons huis laat niemand koud nie – die meeste mense is óf mal daaroor óf hou glad nie daarvan nie! – Lizé-Marie

LEEFVERTREK

Die leefvertrek was oorspronklik grys en wit, maar nadat Lizé-Marie inspirasie uit ’n ou Dulux-kleurgids gekry het, het sy besluit op ’n statige donkergrys en groen vir die mure. “Ons wou die vertrek soos ’n ou Engelse studeerkamer laat lyk, want ons het baie boeke en is mal oor lees,” vertel sy.

Die portretlys is ook grys geverf, want met reeds twee kleure op die muur wou sy nie ’n derde streep maak nie. Die vloerlyste is ’n ligter, sagte grys (Dulux se Antique Sterling), maar die donkerhout-vensterrame is net so gelos. Die houtvloere is ook nie geverf nie. “Ons wou graag iets van die outentieke gevoel van die huis behou,” verduidelik Lizé-Marie. “Boonop eggo dit die hout-elemente in ons meubels.”

KENNERSRAAD: Watter verf gebruik jy waar?

Nonkululeko Mcunu, handelsmerkbestuurder van Dulux, stel die volgende voor: 

MURE Kies die semi-glansafwerking en langdurigheid van Dulux Luxurious Silk, wat uiters vlekbestand is, of Dulux Rich Matt, wat klein onreëlmatighede verbloem.

PLAFONNE Dulux Acrylic PVA is wasbaar en het ’n mat afwerking; gebruik dit op plafonne vir uitsonderlike witheid en goeie bedekking. Dulux Magic White het ’n mat afwerking en lyk pienk voor dit heeltemal droog is; dit sal die perfekte afwerking verseker.

DIE GANG

Omdat dit die gang is wat mense by die huis verwelkom, wou Lizé-Marie en Ian graag hier ’n stelling maak. Daarom is die mure met gewone PVA in skakerings van Dulux se Mercury Shower geverf. “Die gang moes ons liefde vir kuns wys, sowel as iets van die ou statigheid van die huis.”

Al die kunswerke is deur plaaslike kunstenaars en stukke wat al jare saam met hulle kom. Die naaimasjien kom van Lizé-Marie se oupa se plaas.

Die lang mure en prentlyste is met Dulux Mercury Shower 4 geverf. Vir die korter dwars mure is Dulux Mercury Shower 2 gekies, met Mercury Shower 6 op die prentlyste. 

MEDITERREENSE KOMBUIS

Ons is dol oor... dié blou boks wat Ian gemaak het – dit lyk soos ’n outydse meelblik, maar is van hout. Hier bêre hulle plastieksakke en voer vir die tuinvoëls. Dis geverf met Dulux Waterbased Enamel in die kleur Royal Regatta.

Lizé-Marie en Ian het Dulux Luxurious Silk agter die wasbak en stoofgebruik omdat dié verfmakliker skoonmaak.

Die oorspronklike saai wit kombuis het glad nie vir Ian en Lizé-Marie gewerk nie. Hulle het die ou dennehoutkaste liggrys geverf met Celestial Cloud 6 van Dulux.

“Ons wou graag ’n vakansie-atmosfeer in die kombuis skep,” vertel die twee. En wat is dan beter as die blou van die see en die lug op ’n sonskyndag! Daarom het hulle Dulux PVA in die kleur Azure Sky 2 gekies.

Vriende stap gewoonlik reguit na dié tafel toe, want hier word gekuier. Die vertrek loop uit op die houtdek en braaiplek buite. – Lizé-Marie
Ons is dol oor...die houttafel met sy ongeverfde blad – ’n mooi kontras met die wit basis en bankies.

Swartbordverf van Modo is teen een van die mure gebruik vir ’n speelse voorkoms in dié eethoekie in die kombuis. ’n Vrolike houtkissie in die kleur Azure Sky verskaf bêreplek vir leë bottels wat herwin moet word.

RUSTIGE BOUDOIR

In die hoofslaapkamer wou die Marais’s graag die gevoel van ’n ou Victoriaanse slaapkamer skep. “In die ou paleise, soos Versailles, het die slaapkamers dikwels ’n donker wynrooi of groen inkleding – dit is presies wat ons wou hê, maar darem sonder al die goud wat jy daar sien!” lag Lizé-Marie.

Tot die dennehoutkaste in die hoofslaapkamer is geverf. 

Vir hulle was groen die logiese keuse omdat die kaggel in die kamer met oorspronklike groen teëls spog. Lizé-Marie sê dit was glad nie moeilik om op die regte skakering te besluit nie: Victorian Sage van Dulux was perfek.

BADKAMER MET SKOP

Net soos die res van die huis was die badkamer ’n verbeeldinglose wit met die kenmerkende geel vloerlyste en vensterrame. Wat wel in die vertrek se guns getel het, was die klassieke swart-en-wit teëlvloer en die outydse bad. “Ons wou net so ’n bietjie rock & roll, Pulp Fiction en Rocky Horror byvoeg!” skerts Lizé-Marie.

Die deur is wit en swart geverf met Dulux Gloss Enamel. Lizé-Marie het self die bad gerestoureer met Rust-Oleum se Bath Restore Kit – al die kapmerke en skade aan die binnekant was sommer gou iets van die verlede. “Rooi verteenwoordig die Rocky Horror- en Pulp Fiction-gedeelte. Ons glo daar moet altyd ’n tikkie rooi in elke vertrek in die huis wees,” sê Lizé-Marie.

Ons hou van ’n titseltjie rooi in elke kamer. Miskien is dit die ‘tema’ wat deur ons huis loop. – Lizé-Marie

Die badkamerkassie is met ’n découpagetegniek versier – die musiekblaaie kom uit ’n ou FAK-sangbundel. 

LIZÉ-MARIE SE VERFWENKE

  • Die Dulux Visualizer-app is fantasties. Dit help jou veral om tussen twee kleure te besluit en of jy ’n tweede kleur by jou hoofkleur moet voeg.
  • Dis nie nodig om net een tema regdeur jou huis te volg nie. Jy kan bloot die kleur van ’n deurlopende element, soos die vloerlyste, gebruik om al die vertrekke saam te bind.
  • Jy hoef nie wit by jou kleur te voeg om dit ligter te maak nie – kies bloot die heel ligste skakering op die kleurkaart, iets wat maklik is as jy voor die verskillende skakerings in die verfwinkel staan.
  • Hou jou verfkwaste “nat” met kleefplastiek as jy gou ’n koffiebreuk wil vat.
  • Vou ’n strook foelie oor die rand van die verfblik voor jy die verf uitgooi, dan bemors jy nie die hele blik nie.
  • Moenie dink as ’n tydskrif ’n spesifieke kleur in ’n slaapkamer gebruik het, jy dit nie in die eetkamer kan gebruik nie – dink vars en nuut.

Die buitekant van die huis was aanvanklik ’n mosterdgeel geverf. Nou is dit ’n sagte Niagara Blues 3 in Dulux Weatherguard.