Foto's Francois Oberholster

WAT JY NODIG HET

INKOPIELYS

  • Annie Sloan-verf in die kleur(e) van jou keuse
  • Annie Sloan Clear Lacquer
  • nuwe handvatsels
  • houtvuller

GEREEDSKAP

  • skroewedraaier
  • skraper
  • 80-grint-skuurpapier
  • sagte doek
  • kwaste, sponsroller en verfpan
  • stensils van jou keuse
  • liniaal en potlood
  • boor
Projeknotas
  • Jy het vir dié projek letterlik net ’n teelepel verf op elke laai nodig – ideaal om daardie laaste bietjie verf te gebruik.
  • Verf die voorkante en los die natuurlike hout van die res van die laaie net so. Jy gebruik min verf, en die kombinasie van die hout en verf is pragtig.

So maak jy ...

1. Haal die laaie uit, skroef die ou handvatsels af en vul die gate met houtvuller.

2. Wag tot die houtvuller droog is voor jy die laaivoorkante glad skuur; vee die stof af met ’n sagte doek.

3. Verf nou elke laaivoorkant in ’n ander kleur (ons het Annie Sloan se kleure Provence, English Yellow, Arles, Greek Blue en Emile gebruik).

4. Skuur die geverfde voorkante glad; skuur ook die rande om dit effens ingeleef te laat lyk.

5. Plaas die stensils oor die laaivoorkante en verf elkeen met die sponsroller in ’n kontrasterende kleur. Vir ’n verweerde voorkoms, wag tot die oppervlak net-net droog is en vee dan liggies met ’n klam lap daaroor.

6. Verf die res van die lessenaar in een kleur (ons het Annie Sloan se Old White gekies) en laat dit droog word.

7. Skuur die rande sodat van die hout plek-plek deurkom; skuur ook die plat oppervlakke liggies glad. Vee die stof af.

8. Seël al die geverfde oppervlakke met Annie Sloan Clear Lacquer. Meet en merk waar die nuwe handvatsels moet kom, boor die nodige gate en skroef hulle aan.