Plekmatjies van versierde boomskywe, glasflesse gevul met lekkernye en kussings vir lekker lê – wat meer kan jy vra vir ’n informele ete saam met geliefdes op jou gunsteling-kuierkol in die natuur? Nadine Vosloo van Tjhoko Paint wys hoe jy jou plekmatjies feestelik versier met kleur en tekstuur!

Wat jy nodig het

  • boomskywe (trapblokke), te kry by kwekerye
  • ’n stensil in ’n ontwerp van jou keuse
  • Stencil of Paris
  • verfskraper (50 mm breed)
  • Tjhoko Paint (ons het die kleure Jane’s Jade, Simon Says en Cloud White gebruik)
  • verfkwas (50 mm breed)
  • Antique Brown Glaze
  • vleisdoek so groot soos ’n vadoek

So maak jy

1. Plaas die stensil op die boomskyf. Wend van die Stencil of Paris-pasta egalig oor die stensil aan met die verfskraper (pasop dat die pasta nie smeer nie). Verwyder die stensil terwyl die pasta nog nat is en was die stensil met water.

2. Wag sowat twee uur tot die Stencil of Paris droog is en verf dit dan in ’n Tjhoko Paint-kleur van jou keuse. Ons het party skywe met Jane’s Jade en ander met Simon Says geverf. Wag minstens vier uur tot dit droog is.

3. Roer die Antique Brown Glaze goed en giet 100 ml oor in ’n ander houer; verdun met 30 ml water. Wend nou die glasuur versigtig met ’n verfkwas bo-oor die verf aan. Vee dadelik af met ’n klam lap totdat jy tevrede is met die voorkoms.

4. Wag ongeveer 30 minute en wend dan Cloud White-verf oor die Antique Brown Glaze aan; doen dit met ’n droë kwas (maak net die punt van die verfkwas nat met ’n titsel verf) en vee liggies met die kwas bo-oor die glasuur.

Die kussings is ook versier met Tjhoko Paint in die kleure Jane’s Jade en Simon Says.