Vir hierdie projek het ons houtbekleding in vier lieflike skakerings afgewit om dit meer trefkrag te gee.

Die tegniek verander die hout se kleur sonder om die grein te verbloem. En onthou, dit werk net op rou hout, nie oppervlakke met ’n vernislaag nie; as jy ’n verniste meubelstuk met dié bepaalde tegniek wil opkikker, moet jy al die vernislae eers afskuur.

Wat jy nodig het

  • 250 ml Tjhoko Paint in die kleur Stone Wash*
  • 250 ml Tjhoko Paint in die kleur Lorain’s Cream*
  • 250 ml Tjhoko Paint in die kleur Vinia Stone*
  • Tjhoko Clear Glaze
  • Tjhoko Antique Brown Glaze
  • 4 x 50 mm-verfkwaste
  • 4 stukke kaasdoek (elk so groot soos ’n vadoek)
  • skoon water om die doek mee klam te maak

*Jy kan natuurlik die kleure van jou keuse gebruik.

So maak jy

1 Meng die volgende in vier houers (ons het telkens 50ml van elk gebruik): ewe veel Stone Wash en Clear Glaze, ewe veel Lorain’s Cream en Clear Glaze, ewe veel Vinia Stone en Antique Brown Glaze en, laastens, 1 deel water en 3 dele Antique Brown Glaze.

2 Maak die kaasdoek-lappies nat met water; druk enige oortollige water uit. Hou hulle byderhand.

3 Begin met een van die horisontale planke op die bekleding. Verf ’n klein deel met jou 50 mm-kwas in een van jou vooraf gemengde kleure.

4 Vee die verf nou egalig af met een van die klam lappies tot jy die gewenste effek het.

5 Herhaal stap 3 en 4 met jou tweede kleur op ’n nuwe, ongeverfde plank. Doen dieselfde met jou derde kleur op die volgende ongeverfde plank, en dan met die vierde mengsel. Wend die vier mengsels om die beurt aan tot die hele oppervlak bedek is.  

Het jy geweet?
Deur Tjhoko Paint met een van Tjhoko se glasure te meng, skep jy ’n afgewitte oppervlak wat water- en UV-bestand is. Nie net lyk dit pragtig nie, dit sal ook lank hou!

Koffiestasie gebou deur Dieter Seyfferdt van Hiep Projects (hiepprojects@gmail.com)