Foto's Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk 

Wie woon hier? Elzaan en Arno de Wit en hul seun, Noah
WAAR Welgemoed, Kaapstad

Die Romeinse blinding is gemaak van lap wat Elzaan by ’n Hertex-uitverkoping raakgeloop het. Die werkblaaie is Silestone in die kleur Blanco Norte. 

Ons weet verf is ’n wonderlike ding! – Elzaan

Elzaan en Arno de Wit se slim planne is nie onbekend aan Tuislesers nie. Hulle is ou gunstelinge in die jaarlikse Regruk met Flair-kompetisie, en was in 2015 in die topvyf! Kyk jy so na hierdie kombuis, verstaan jy van voor af hoekom. Die egpaar en hul vyfjarige seun, Noah, woon die afgelope drie jaar in dié huis in Welgemoed buite Kaapstad.

Arno is ’n verhuringskonsultant by Pam Golding in die middestad, en Elzaan ’n onafhanklike reiskonsultant wat van die huis af werk. Sy vertel dis die langste wat hulle nog in ’n huis gewoon het. “Ons is gewoonte-opknappers en dit is ons agtste huis in tien jaar – maar dit lyk of ons vir eers gaan wortelskiet hier,” sê sy terwyl sy knipoog. Hul kombuisprojek het twee weke geduur en die De Wits sê mense is verstom oor die groot verskil wat meestal verf aan die ruimte gemaak het.

Maar dit was nie hul eerste verfprojek nie. “Ons het al die lelikste ou huise opgeknap, geverf en verkoop; Arno het ook al erg vernielde meubelstukke aangedra wat ná ’n vars laag verf almal in ons huis pronk,” vertel Elzaan. “So ons weet verf is ’n wonderlike ding!”

DIE PALET

Dulux Khaki Mists 6

Dulux Khaki Mists 4

Die projek

Die kombuiskaste van soliede eikehout was in ’n baie goeie toestand en ook goed ontwerp, maar Elzaan vertel dat die kleur uit die oude doos was. Hulle wou boonop graag ’n losstaande gasstoof aanskaf, wat beteken het dat van die kaste aangepas moes word. “Omdat ek so baie van sweefrakke hou, was dit nog een van my vereistes vir die nuwe kombuis.”

En natuurlik wou sy ’n eiland hê wat jy nie kon miskyk nie. Die een wat oorspronklik in die kombuis was, het volgens Elzaan ’n bespotting van die begrip “kombuiseiland” gemaak: Dit was piepklein en uit verhouding met die skaal van die vertrek. Oor hul kleurkeuse sê Elzaan: “Dit moes so neutraal moontlik wees, maar nie wit nie; dis darem te klinies en koud.” Hoewel die De Wits graag self inspring, het hulle dié keer besluit om hulp in te roep.

Christo Barnard van Mr Do It All het die nodige houtwerk aan die kaste gedoen, die sweefrakke gebou en nuwe Silestone-werkblaaie laat installeer. Hy het op sy beurt vir Marlene Kruger van Inspired Interiors gevra om die verfwerk te behartig. “Ons het al tevore met Marlene kennis gemaak deur haar handewerk in Tuis. Ek dink die projek was uiteindelik heel eenvoudig, bloot omdat Christo en Marlene presies geweet het wat ons van hulle verwag.”

KENNERSRAAD

As jy houtkaste verf

Die regte voorbereiding sal jou taak vergemaklik. So het Marlene gemaak:

1. Eers het ons al die kasdeure afgehaal – dis makliker om met die los deure te werk as wanneer hulle aan die karkasse vas is. En dit maak die karkasse, wat ook geverf moet word, meer toeganklik.

2. Ter voorbereiding is al die oppervlakke met 80-grint-skuurpapier geskuur; al die vernis hoef nie af te wees nie, net grof genoeg sodat die onderlaag kan klou. Wenk: Indien jy nuwe handvatsels wil aansit, vul die ou gaatjies met houtvuller (kies wit vuller indien jy ’n ligte kleur gaan verf, en as jy donker verf, kry dan die naaste aan die ou hout se kleur).

3. Volgende het ek ’n universele onderlaag aangewend. Gebruik iets soos Dulux Supergrip en verf dit met ’n kortpool-roller op die plat oppervlakke en met ’n klein kwas op die profielrande. Die onderlaag het 24 uur nodig om behoorlik droog te word.

4. Daarna het ek die kleurlaag ook met ’n roller en kwassie op die onderskeie oppervlakke aangewend. Twee lae was genoeg vir dié projek. Maak seker alles is mooi eweredig geverf.

5. Toe die verf goed droog was, het ek dit geseël met Stoneseal van Sabre. 6 Voor ons die kasdeurtjies teruggehang het, het ek ook al die karkasse geverf.

Die De Wits het van die ou muurteëls ontslae geraak en net smal houtlysies bo die onderkaste vir beskerming teen die muur laat opsit. Dié houtlysies is in dieselfde kleur as die kaste geverf

Die antrasietkleur stoof sorg vir ’n sterk fokuspunt. Nou wil die De Wits nog ’n spatpaneel van klein Portugese tee¨ls in steenkool en wit aanbring. 

ELZAAN SÊ

  • Omdat my en Arno se tyd deesdae beperk is, was dit die beste besluit om twee kundiges in te span. Alles het glad verloop. Die werk is flink en vinnig voltooi en die eindresultaat sorg net vir komplimente.
  • Ons het wel presies geweet wat ons wou hê en idees wat ons op Pinterest en in ou Tuis-tydskrifte gesien het, aan Christo en Marlene oorgedra sodat daar geen verwarring kon wees nie.
  • Vorige projekte het ons geleer om die skakering so neutraal as moontlik te hou. 
KONTAKTE EN VERSKAFFERS

@home 0860 576 576, home.co.za Hertex 0860 437 839, hertex.co.za Inspired Interiors (Marlene Kruger) 082 879 5083Le Creuset 086 177 3321, lecreuset.co.za Mr Do It All mrdoitall.co.za