Foto’s Francois Oberholster, Henrique Wilding, Andrea van der Spuy en Micky Hoyle | Stilering Marian van Wyk en Misi Overturf

Hallo, sonskyn!

Veiligheidshekke is ’n noodsaaklikheid, maar kan ’n regte seeroog wees. Verbloem dit deur die hek dieselfde kleur as jou voordeur te verf. Wees dapper en kies ’n treffende kleur soos dié vrolike geel. Probeer Dulux Delhi Bazaar 6 vir ’n soortgelyke kleur.

Bloktyd

’n Kleurblok-effek is ’n slim manier om ’n kopstuk met die fokusmuur daaragter te laat saamsmelt. Gebruik ’n stuk bekostigbare laaghout as kopstuk om die muur te beskerm. Meet blokke van dieselfde grootte as die kopstuk en verf dit in die Dulux-kleure van jou keuse.

Hier en daar

Die restaurant A Touch of Madness in Observatory, Kaapstad, is bekend vir sy pragtige vintage-dekor. Hier spog herwinde vloerblokkies teen die muur; die effek van die visgraatpatroon met geverfde blokkies tussenin maak dit ’n fokusmuur wat dadelik die oog vang.

Dis muurkuns

Poliuretaan-plafonrose is teen die muur van die Ou Meul-bakkery in die Willowbridge-winkelsentrum in Bellville aangebring en vorm die perfekte sieromranding vir die pasgemaakte goue muurlig. Sit die roos vas met gom, net soos jy teen die plafon sou doen, en verf dit dan in die kleur(e) van jou keuse. Interieurontwerp deur Bone Interior Design Studio.

Netjies weggepak

Dié biblioteekkas in die agtjarige Ben Vogel se slaapkamer is bêreplek vir sy skoene en sokkies, sê sy ma, San-Marié. “Maar dis ook waar hy al sy optelgoed wegsteek,” sê sy. “Ek ontdek dikwels ’n blink klippie, interessante blaar, lekker of Lego-blokkie hier.”

Sy het die houtkas geverf toe Ben nog ’n baba was. “Die rooi werk goed saam met die swart en wit strepe in ’n seunskamer,” sê sy. Pst! Knip kleurkaarte uit, skryf op elkeen wat is binne-in ’n bepaalde laai en skuif dit dan in die metaalrame op die onderskeie laaivoorkante

Breëband

Dié swart strook is dieselfde kleur as die uitstalkas in Heleen en Karel de Haas se sitkamer in hul Karooplaashuis – ’n vars, moderne dekor-idee wat die lieflike houtvloere komplementeer. ’n Enkele strook in ’n donker kleur pleks van ’n hele fokusmuur is ’n slim manier om ’n groot vertrek te anker en terselfdertyd ’n treffende fokuspunt te skep.

KENNERSRAAD: OP JOU VLOERE

Preneshree Pillay, Dulux marketing manager, says: Preneshree Pillay, bemarkingsbestuurder van Dulux, sê: As jy jou huis se houtvloere behandel, sal dit die natuurlike grein se voorkoms verbeter en verseker dat die vloer bestand is teen voetverkeer. Die hout sal ook heelwat langer in ’n goeie toestand bly.

Onbehandelde vloere is meer geneig tot krapmerke en vlekke, en die planke kan buig as dit blootgestel word aan ’n oormaat vog. Gebruik Dulux Woodgard Floorgard – dit het ’n deursigtige glansafwerking.

Tropiese styl

La Parada Del Mar-restaurant-en-kroeg in Kampsbaai, Kaapstad, het ’n breë blougrys strook op hul wit mure (binne en buite) aangebring – ’n slim plan wat jy maklik by die huis kan nadoen pleks van ’n soliede fokusmuur verf.

“Eers was daar net ’n streep aan die buitekant van die gebou, maar ons het gou besef die wit mure aan die binnekant kort ook iets,” sê hul interieurontwerper, Simone Biggs. “Ons het besluit om die streep aan die binnekant te herhaal om die twee ruimtes met mekaar te verbind.” As jy hou van die kleur, oorweeg Dulux Steel Symphony 4.

MAAK SELF SO!

Hou by 'n neutrale kleurpalet vir meubels en afwerkings, speel met spatsels kleur (ons is dol oor die Pineapple-plakpapier van Robin Sprong) en gebruik huisplante soos bamboes en palms om die prentjie af te rond. 

KONTAKTE EN VERSKAFFERS