Projeknotas
  • Wend minstens drie lae Clear Glaze aan – selfs meer indien die oppervlak aan direkte son en reën blootgestel is. Die glasuur maak dit UV- en waterbestand.
  • Laat minstens ’n halfuur toe tussen die aanwending van elke laag en wag sowat 24 uur voor gebruik.

Wat jy nodig het

  • Paint Master se Primers & Undercoat met ’n waterbasis (of enige ander goeie onderlaag)
  • Tjhoko Paint in die volgende kleure:

Sherif’s Stone

Vinia Stone

Silver Moon

  • Stencil of Paris
  • Tjhoko-stensil – ons het ’n ronde een gebruik wat presies die grootte van ons sement-“stompe” is
  • Tjhoko Paint Clear Glaze
  • 2 x 50 mm-verfkwaste
  • 50 mm-verfskraper
  • kaasdoek

So maak jy ...

1 Verf die rou sementoppervlak met Paint Master se waterbasis-Primers & Undercoat en laat staan vir ongeveer 2 uur.

2 Wanneer die onderlaag droog is, wend 2 lae van die basiskleur aan (ons het Sherif’s Stone gebruik).

3 Wag tot die Sherif’s Stone handdroog is en wend ’n laag Vinia Stone en daarna ’n laag Silver Moon bo-oor aan. Gebruik die droëkwas-tegniek hiervoor.

4 Meng nou 5 ml Vinia Stone by 1 potjie Stencil of Paris om die pasta effens te verkleur. Plaas jou stensil bo-op die sitplek en smeer die Stencil of Paris met jou verfskraper oor die stensil aan. Maak seker dat die aanwending mooi egalig is en verwyder die stensil van links na regs terwyl die pasta nog nat is. Was die stensil en verfskraper dadelik met louwarm water.

5 Wag ongeveer 4 uur dat die verf en Stensil of Paris behoorlik kan droog en hard word voor jy dit glasuur. Verdun die Clear Glaze met 30% water en gebruik ’n klam stuk kaasdoek (omtrent so groot soos ’n kombuisvadoek). Doop die lap in die glasuurmengsel, druk enige oortollige mengsel uit en vee die glasuur egalig oor die hele oppervlak.

Maak jou eie “stompe”

As jy soortgelyke sementsitplekke wil giet, doen dit in ’n ou halwe drom. Sit ’n kissie onderstebo binne-in die drom en giet die sement daarrondom – dan is jou sitplek nie ’n soliede sementblok nie en veel ligter vir rondskuif. Wag tot die sement droog is en sny die drom oop met ’n hoekslyper, haal die kissie uit en siedaar! 

Besoek tjhokopaint.co.za vir Tjhoko Paint se opwindende stensilreeks, asook ’n handelaar naby jou.