Kanttafel en koffietafel van Chair Crazy; mat van MRP Home; deken, glas en pienk strooikussing van H&M Home; vaas, kussings (regs) van Woolworths; kussings (links) van @home

PROJEKGIDS

Harde werk 3/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig 1 dag

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 600 g- dik karton (ons s’n was 780 x 1020mm groot)
  • 1 liter Dulux Luxurious Silk in die kleur Sea Urchin 3
  • 1 liter Dulux Luxurious Silk in die kleur Soft Fauna 5
  • 1 liter Dulux Luxurious Silk in die kleur Volcanic Splash 5
  • Prestik
  • 2 rolle maskeerband (48mm breed)

GEREEDSKAP

  • handwerkmes
  • snymat
  • waterpas
  • verfkwaste
  • verfrollers en -bakke

Projeknotas
  • Vir groter of kleiner seshoeke, sien hexagoncalculator.apphb.com.
  • Gebruik deurgaans dieselfde breedte maskeerband, want dit vorm die wit rande van die seshoeke teen jou muur.

Stap vir stap ...

1 Teken ’n seshoek op die karton. Trek eers ’n middellyn oor die lengte (900 mm) en een oor die breedte (780 mm) van die karton (sien skets). Maak seker hulle kruis perfek haaks. Meet en maak ’n merk 225 mm alkant van die groen kol wat die middelpunt van die boonste sy aandui. Doen dit ook by die onderste sy. Meet en maak nou ’n merk 450 mm alkant van die punt waar die middellyne kruis. Verbind al die merke.

2 Plaas die karton op die snymat en sny die seshoek uit met die handwerkmes.

3 Begin links onder teen die muur. Plaas die karton net bo en gelyk met die vloerlys, teen die hoek. Maak seker die patroon is waterpas en plak vas met Prestik. Trek die patroon op die muur af en plak die buitelyne van jou seshoek netjies met maskeerband. Posisioneer dan die karton-seshoek net bo die maskeerband van die eerste seshoek en herhaal tot teen die plafon.

4 Wanneer jy by die rye langs die eerste ry seshoeke kom, plaas die patroon so dat dit tussen die seshoeke van die vorige ry inpas. Trek af en merk die sye met maskeerband. Hou so aan totdat die hele muur vol seshoeke is. Indien die karton-seshoek nie perfek pas nie, buig dit effens tot hy pas.

5 Verf nou die seshoeke in die drie kleure. Ons het die twee rooi seshoeke eers net gemerk, toe die blokke in die ander twee kleure lukraak geverf en laaste die twee rooies. Laat die eerste verflaag goed droog word en verf dan nog ’n laag.

6 Wag tot die verf heeltemal droog is voor jy die maskeerband versigtig aftrek.

Jeuk jou hande vir nog? Kry die spesiale uitgawe Tuis Verf Dit in ’n winkel naby jou, of kry die digitale weergawe hier.