Foto’s Francois Oberholster l Stilering Marian van Wyk

In 2019 het ek saam met ’n groep lesers ’n Annie Sloan-slypskool in Frankryk bygewoon. Kort ná my terugkoms het ek en my man, Allister, ’n ander huis gekoop, en ek wou die drumpel by die deur na die braaikamer mooimaak met ’n verftegniek wat lyk soos klein teëltjies. Maar die kaggel moes ook aandag kry. Toe gryp ek die verfkwas...

Wat jy nodig het (benewens geduld!)

GEREEDSKAP

• maskeerband

• krytverf in 5 skakerings

• Duram Showfloor-vloerverf in die kleur Clear

• verfkwas

• liniaal

• kunsvlytmes    

PROJEKNOTAS

• Pas die breedte van die maskeerband aan by jou patroon. Ek het 24mm-maskeerband gebruik.

• Besluit vooraf watter kleure verf jy wil gebruik. Ek het Annie Sloan-verf in die kleure Napoleonic Blue, Greek Blue en Scandinavian Pink, en Tjhoko Paint in die kleure Matt Black, Goodness (groen) en Silvermoon (liggrys) gekies.

Voor 

Só maak jy die mosaïekpatroon

1 Maak eers die voegbrylyne Plak stroke maskeerband langs mekaar, met ’n 2mm-gaping tussenin, oor die lengte van die deel waar jy die mosaïekpatroon wil aanbring. Verf oor dié openinge met swart verf (Tjhoko Paint Matt Black). Verwyder die maskeerband, wag tot die verf droog is en plak nou maskeerband dwars oor die eerste strepe, weer 2mm van mekaar, om die geruite patroon te voltooi. Dis baie tydrowend, maar gaan sorg dat die blokkies wat jy verf, soos teëltjies lyk.

2 Gebruik ’n liniaal en kunsvlytmes en sny lukraak blokkies uit die maskeerband, gereed vir inkleur. Hou in gedagte waar jy oral een kleur wil hê en gebruik ekstra maskeerband soos nodig om die verflyne tussenin te beskerm. Verf die eerste kleur in die voorbereide blokke.

3 Sny nou die blokkies vir die volgende kleur oop en verf weer sorgvuldig tussen die lyne.

4 Herhaal die uitsny-en-verfproses tot die hele strook se blokkies ingekleur is en al die verfkleure gebruik is. Dit kan later in die verfprojek nodig wees om nuwe maskeerband te gebruik en reeds geverfde blokke toe te plak vir beskerming, maar dit is deel van die pret.

Die afronding

Die braaikamer was oorspronklik ’n stoep met ’n baksteenvloer. Dis met ’n laag sement afgevlak en toe saam met die mosaïekpatroon geseël met twee lae Duram Showfloor Clear. Die rou steenmuur is met twee lae swart Duram Weather Roof-dakverf bedek. Dit steek die verskillende teksture teen die muur weg en laat die braaikaggel wegsmelt, pleks daarvan dat dit soos ’n swart gat lyk. Die plafon is wit geverf en voel nou hoër.

Dit was ’n liefdestaak wat langer geneem het as wat ek wil erken, maar teen ’n appel en ’n ei en so ’n bietjie rugpyn is ek baie tevrede met die resultaat. – Johané