WAT JY NODIG HET

INKOPIELYS

  • Dulux Trade Alkali Resistant Plaster Primer
  • Dulux Wallguard Night Jewels 3
  • Dulux Wallguard Steel Grey 4

GEREEDSKAP

  • draadborsel
  • verfroller en -bak
  • verfkwas
  • maatband
  • kryt
  • handwerkmes en snybord
  • blaarpatroon
  • maskeerband
  • waterpas
  • kunstenaarskwaste van verskillende groottes (’n fyn kwassie vir lyne en ’n groter een om die blare in te vul)

So maak jy ...

1. Die sleutel tot suksesvolle verfwerk is voorbereiding – veral as jy ’n vibracrete-muur verf. Skrop alle vuilis, vetterigheid en los brokkies met ’n draadborsel af; of spuit dit skoon met ’n hoëdrukspuit, maar laat dan die muur oornag goed uitdroog.

2. Wend ’n laag Dulux Trade Alkali Resistant Plaster Primer aan en gee dit 18 uur kans om droog te word.

3. Wend twee lae Wallguard Night Jewels 3 aan wanneer die onderlaag goed droog is; gee elke laag vier tot ses uur om droog word.

4. Druk die blaarpatroon op 160 gsm-papier en sny dit met ’n handwerkmes uit; gebruik die buitedeel om jou patroon mee af te trek; dit sal dit makliker maak om die blare te spasieer en teen dieselfde hoek te plaas.

5. Meet 35 cm van die muur se pilare af en gebruik dit as middelpunt van jou stele. Meet en merk nou 2,5 cm weerskante van dié merk. Gebruik die waterpas en kryt en teken die stele op die merke.

6. Plaas die patroonblad met sy kort rand gelyk met die steel; plak dit vas met maskeerband en trek die patroon met kryt op die muur af.

7. Sodra die patroon oor die hele muur geteken is, kan jy die lyne met die Wallguard Steel Grey 4 en ’n fyn kunstenaarskwas verf. Kies sommige blare wat jy tussen die buitelyne wil invul. Jy het twee lae verf vir die ingevulde blare nodig, maar net een vir die lynwerk.

Wenk

Maak eers al die blare aan die linkerkant klaar, draai die patroon om en teken dan dié aan die regterkant.