Vraag:Ons het ons huis se teëls uitgekap en wil graag sementvloere hê, maar ons begroting is knap. Ons hou nie juis van die rou sementkleur nie – eerder wit, grys of ligblou. En waarmee kan ons die vloer seël om dit te laat blink?

Karin Cronjé van Hands On Creative Building & Management antwoord: 

Daar is verskillende maniere om ’n mooi sementvloer te kry. Soms kan ’n kleurpigment by die sementmengsel gevoeg word, maar vanweë die kleurskema wat julle wil hê, gaan dit nie werk nie – pigmente in wit, grys en ligblou is te lig om die kleur van rou sement te verander.

Julle het twee opsies:

1. Wend ’n lagie wit sement, gemeng met ’n blou of swart pigment, ná die tyd bo-oor die grys sement aan met ’n troffel. Dié lagie kan dan met ’n poliuretaan- seëlaar afgerond word vir ’n blink voorkoms. raad

2. Verf die vloer met Dulux Trade Tuffcote – dis te kry in wit of grys. Of gebruik Dulux Trade Floorcote Enamel as jy ’n produk met ’n oplosmiddel-basis verkies. Ongeag watter opsie julle kies, moet julle eers die vloer goed voorberei. Nadat julle die teëls en teëlgom afgekap het en die oppervlak is redelik gelyk, kan julle ’n selfnivellerende (“self-levelling”) afvlaklaag aanwend.

Indien die oppervlak baie ongelyk en vol groter gate is, sal julle egter ’n sement-en-sand-bolaag van ongeveer 20–25 mm moet aanwend om ’n goeie, duursame vloeroppervlak te verkry. Sodra die vloer mooi glad, gelyk en droog is, kan julle enige van bostaande metodes volg.

KONTAK: 083 277 3166