Fotos Francois Oberholster | Stilering Shelly Bergh

Wie woon hier? Johan en Gayle Nel, hul dogtertjie, Estella (20 maande), en hul hond, Mia
WAAR Boston, Kaapstad

Nadat die Wendy-huis se buitekant afgeskuur is, is die oppervlak voorberei met ’n laag Dulux Supergrip en toe geverf met Dulux Pearlglo.

Die ou Wendy-huisie, waarvan die wit verf al begin afdop het, was ’n seeroog naby die braaiplek in Johan en Gayle Nel se voortuin. “Ek het dit gebruik as bêreplek vir planke en blokkies vir my houtwerkprojekte,” vertel hy. Gayle en haar ma, Marguerite Pullen, het egter ander planne met dié houthuisie gehad.

Hulle was oortuig dis net die regte adres vir ’n speelhuisie. Johan het ingestem, op een voorwaarde: Dat sy hout vir eers daarbinne bly. Intussen kon hulle Estella se “werf” opdollie in die mooiste buitespeelplek waar hulle ’n ogie oor haar kan hou.

Vir die huisie se buitemure het Gayle haar gunsteling-blougroen gekies, met ’n vuilpienk vir die deur. En toe die huisie eers sy nuwe baadjie aangehad het, het die Nels dit versier met nuwe kopies en herwinde weggooigoed – ’n ou stoel, buiteband en ystertafeltjie – in ’n vars laag verf. “Ons is dol oor hoe die eindproduk lyk,” sê Johan.

“Estella speel alte lekker rondom die huisie.” Hulle beplan om die binnekant net so mooi soos buite te maak, met ’n groot pophuis, tafeltjie en klein stoeltjies en rakke vir speelgoed. “My houtwerkvernuf sal beslis op die proef gestel word.” As bonus is die Nels se voortuin nou ook soveel sagter op die oog. “Die geverfde buiteband teen die muur met die groenigheid daarin, die potplante in die plantrak en die siervlaggies gee ons kuiertuin ’n vrolike kinkel,” sê Johan tevrede.

Die ou stoel kan weer trots sy plek by die voordeur inneem. Nadat die hout afgeskuur is, is dit met twee lae helder Woodgard Timbavarnish van Dulux versee¨l teen wind en weer. 

’n Tuin in ’n buiteband

Berei die band voor met Zinsser 1-2-3 Primerspuitverf. Laat die onderlaag droog word en verf met twee lae Rust-Oleum halkedspuitverf. Wag tot dit droog is en verseël dit met Rust-Oleum Chalked Matte Clear. Boor dreineergate onderin die band, plant jou plant in potgrond en hang die band op met sterk tou.

Slim plan! Die tak-haak was ’n gelukkige vonds. Maak jou eie van ’n mikstok, verf dit met Dulux Gloss Enamel (ons het die kleur Amber Queen 4 gekies) en skroef dit teen ’n muur vas. 

KENNERSRAAD: Speel klaar met roes

Preneshree Pillay, Hammerite bemarkingsbestuurder by Dulux, sê:

Gebruik Hammerite Direct to Rust om roes by metaaldeklae te voorkom. Verf dit dan met ’n produk wat óf ’n geklopte afwerking met ’n metaalglans, óf ’n blink, gladde afwerking het vir ekstra glans. Hammerite Direct to Rust-metaalverf bied nou selfs beter beskerming teen roes met die nuwe Dualtechbymiddel wat metale op twee maniere beskerm: Dit is waterwerend én dit stop die roesproses. So geniet die metaal langer beskerming; raadpleeg egter altyd die tegniese datablad voor gebruik. Hammerite Direct to Rust kan regstreeks op enige voorbereide nuwe of geroeste ysterhoudende metaaloppervlak aangewend word. Berei nieysterhoudende metale (aluminium- of gegalvaniseerde items) voor met Hammerite Special Metal Primer.

Hammerite Smooth Silver Grey het dié deurmat ’n blink toekoms gegee.

Hartvormige deurmat en takhaak van Abode; waterskoene van Woolworths

VERSKAFFERS
Abode 072 261 3540, abode.co.za Builders 0860 284 533, builders.co.za MRP Home 0800 212 535, mrphome.com Super Floral 011 613 4046, 021 510 7759, superfloral.co.za Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za