Hoe veilig is jou huis?

Goeie sekuriteit beskerm nie net jou persoonlike veiligheid en besittings nie, maar verminder ook jou maandelikse versekeringspremies en verhoog die waarde van jou eiendom. Hoewel selfs die beste sekuriteitstelsel op die mark nooit 'n 100%-waarborg teen inbrake of misdaad bied nie, dien dit wel as afskrikmiddel.

Gaan staan in die straat en bestudeer al die huise rondom joune - kyk na aspekte soos diefwering, veiligheidshekke, elektriese heinings en alarmstelsels. Watter huis lyk die maklikste om by in te breek? As dit joune is, is dit tyd om 'n plan te maak.

Waar begin ek?

In die sekuriteitsbedryf word daar dikwels na die aantal "veiligheidslae" verwys - hoe meer "lae" jy het, hoe moeiliker is dit vir 'n dief om in te breek. As jy byvoorbeeld 'n grensmuur, elektriese heining, diefwering, veiligheidshekke én 'n alarmstelsel het, maak die vyf veiligheidslae jou dalk minder van 'n teiken as jou buurman wat net twee of drie lae het.

Ons kyk na die groot moets in sekuriteit: veiligheidshekke, diefwering, alarmstelsels en muurbeveiliging.

Traliehekke

Met die groot aantal en verskillende soorte veiligheidshekke op die mark, is dit nie aldag maklik om die regte een te kies nie. Traliehekke het stawe van verskillende diktes, en verskillende sluitmeganismes en rolmeganismes.

Traliehekke Die eerste besluit is of jy self jou veiligheidshekke gaan aanbring en of jy die kundiges gaan laat kom. Volgens die maatskappy Trellidor is dit die moeite werd om 'n konsultant te kry om 'n pasgemaakte kwotasie volgens jou individuele behoeftes te gee. Dié diens is gratis - hoekom dan nie daarvan gebruik maak nie? 'n Konsultant sal jou help om die vlak van sekuriteit wat by jou eiendom nodig is, te bepaal. As jy byvoorbeeld in 'n sekuriteitskompleks met 24-uur-sekuriteit woon, is jou risiko moontlik laer as dié van iemand wat in 'n losstaande huis op 'n hoekerf oorkant 'n oop veld bly - dan is 'n effe goedkoper hek die oplossing vir jou.

Trellidor het 'n vraelys op hul webwerf wat jy kan invul om jou spesifieke risiko te bepaal, maar besoek ook ander veiligheidsmaatskappye se webwerwe vir soortgelyke inligting.

Onthou, verskillende areas in die huis het verskillende vlakke van sekuriteit nodig. Slaapkamers vereis hoër sekuriteit as leefvertrekke, aangesien jy nie in jou slaap oorval wil word nie. 'n Huis se sekuriteit moet dus uit 'n kombinasie van verskillende produkte bestaan.

Diefwering

Hoewel diefwering onooglik kan wees, kan min huise daarsonder klaarkom - versekeraars sal selde indien ooit 'n huis verseker wat nie diefwering het voor al die vensters wat oopmaak nie. En met die hedendaagse neiging na aluminiumvensterrame, is die dilemma nog groter, aangesien diefwering wat in aluminium gemonteer is, makliker deur inbrekers verwyder kan word.

DiefweringDiefwering moet verkieslik in die muur ingebou of vasgesit word met skroewe wat nie kan uitdraai nie. Gewone skroefkoppe kan glad gevyl of met 'n epoksistopverf gevul word sodat 'n inbreker dit nie kan uitdraai nie. Onthou, net soos veiligheidshekke is diefwering aan die binnekant van vensters veiliger as dié wat buite vasgesit word, want skelms moet eers die ruit breek voordat hulle by die diefwering kan uitkom.

Kies die regte verskaffer

Voor jy 'n diensverskaffer vir diefwering of veiligheidshekke kies, vind eers uit:

  • Hoe lank bestaan die maatskappy? As jy in die toekoms herstelwerk wil laat doen, ekstra hekke of sleutels nodig kry, is dit belangrik dat die maatskappy steeds sal bestaan
  • Watter waarborge is daar?
  • Hoe groot is die produkreeks? Maak dit voorsiening vir alle tipes risiko's, van hoog tot laag?
  • Watter verskillende soorte slotte is beskikbaar? Is daar 'n keuse?
  • Maak die maatskappy voorsiening vir gespesialiseerde behoeftes soos rolstoeltoegang?
  • Hoe toeganklik is die maatskappy as jy hulle dringend nodig het?

Elektriese heining en ander muurbeveiliging

'n Elektriese heining bo-op 'n grensmuur is 'n goeie afskrikmiddel. Dit kos sowat R40 per meter vir vyf lyne, en die gepaardgaande energietoestel kos sowat R3 000. Dit kan ook met jou alarm se reaksie-eenheid verbind word sonder enige addisionele koste.

Skerp punte kan self gemonteer word, of jy kan dit laat monteer. Die maatskappy Eina Ivy vra R210 per meter vir skerp punte met dekoratiewe blare (klimop- of wingerdvoorkoms), installasie ingesluit. Skerp punte wat jy self kan aanbring kos tussen R82 en R250 vir 1,5 m by ysterwarewinkels.

Grensmure kan ook met infrarooi strale beveilig word. Die installasie kos vanaf sowat R1 500 vir 'n middelslag-erf. Geen maandelikse fooi is van toepassing nie, aangesien dit aan jou alarm gekoppel word.

Híér het diewe ingekom

Die versekeringsmaatskappy Santam het bevind dat sekuriteitshekke wat in winkels gekoop word, nie altyd die ondeurdringbaarheid bied waarna jy soek nie. Selfs al koop jy die duurste hek op die mark, kan die verkeerde installasie die doeltreffendheid verminder. Die volgende algemene swak plekke wat tot inbrake by kliënte gelei het, is geïdentifiseer:

Tralie-sekuriteitshekke

  • Die staal was nie sterk genoeg nie.
  • Die sweiswerk was swak en net aan een kant van die hek.
  • Die skarniere was te lig en is met houtskroewe en skroefproppe aan die muur gemonteer pleks van met Rawl-boute.
  • 'n Te groot opening is aan die kant van die hek gelaat.
  • Die slotte was van swak gehalte.
  • Die sluitpen was nie beskut nie en is maklik afgesaag.
  • Boutgate is te na aan die kante van die muur geboor en inbrekers het die hek verwyder deur die boute uit die muur te breek.

Skuif- of konsertina-tipe hekke

  • Slotte wat maklik gebreek is.
  • Sluitpenne wat maklik gebreek is.
  • Die staal was te swaar, wat die klinknaels verswak het en inbrekers kon die hek binne sekondes oopbreek.

Hou dié wenke in gedagte

Die raam van 'n tralie-tipe hek moet van vierkantige pyp met 'n deursnee van minstens 25 mm gemaak word en die stawe moet minstens 12 mm dik wees.

Die stawe moet deur horisontale vierkantige pype loop en daaraan vasgesweis word. Maak seker die skarniere is van die pen-tipe en is behoorlik aan die hek en die skarnierplaat of vaste raam gesweis. Plat skarniere bied nie genoeg weerstand nie.

Skuif- of konsertinahekke moet altyd aan die binnekant van die deur gemonteer word om die hoogste weerstand te bied.

Alarmstelsels

'n Alarmstelsel wat met 'n gewapendereaksie-diens verbind is, bied gemoedsrus, want jy weet hulp sal dadelik uitgestuur word tydens 'n noodgeval. Volgens die sekuriteitsmaatskappy ADT sal jy binne sewe minute hulp ontvang. Moet dus nie eens 'n alarmstelsel sonder dié diens oorweeg nie.

Alarmstelsels'n Basies alarmstelsel gebruik beweging- of hittesensors wat nie net deure en vensters beskerm nie, maar ook binnenshuise ruimtes. In die meeste gevalle kan gebruikers enige van die sensors of "ogies" onaktief maak as hulle tuis is, maar wel die sensors op die deur en vensters aktiveer. Jou alarm kan dus aangeskakel wees al is jy tuis.

Daar is 'n enorme verskeidenheid pakkette en dienste beskikbaar - kry dus 'n kwotasie van 'n maatskappy wat in jou spesifieke behoeftes voorsien. Benewens 'n gewapendereaksie-diens, is dienste soos kringtelevisie, videomonitering en -bewaking, patrollies, toegangsbeheer, en rookalarms gekoppel aan 'n alarm en brandblussers, ook beskikbaar.

Watter sekuriteitsmaatskappy?

Volgens ADT is dit belangrik om die volgende in ag te neem wanneer jy 'n diensverskaffer kies:

  • Is die maatskappy lid van bedryfsorganisasies soos SAIDSA (South African Intruder Detection Services Association) en PSIRA (Private Security Industry Regulatory Authority) - en voldoen dit dus aan die minimum standaarde?
  • Is al hul sekuriteitspersoneel by PSIRA geregistreer?
  • Beskik al hul personeel oor 'n Graad C-akkreditasie?
  • Word bykomende veiligheidskontrolering op personeel gedoen?
  • Hoeveel reaksiebeamptes en patrollievoertuie doen diens in jou spesifieke area?
  • Is daar addisionele rugsteun uit omliggende areas tydens 'n noodgeval?
  • Is die maatskappy verbind aan 'n diens vir mediese noodgevalle, soos Netcare 911?
  • Is die maatskappy betrokke by die plaaslike buurtwag?
  • Word inwoners op hoogte gehou van misdaadaktiwiteite in die omgewing?
  • Is daar bykomende dienste vir kinders of huishulpe?
  • Is die maatskappy bereid om jou tuis in te wag en te begelei indien jy laataand tuiskom?