Projeknotas
  • Kyk uit vir ou kasdeure op straatmarkte of gumtree.co.za. Ons deure was 370mm breed en 1940mm hoog, wat die mate en materiaalhoeveelhede vir ons kas bepaal het. Pas dit aan volgens die deurtjie(s) wat jy raakloop.
  • Onthou om gidsgate te boor.
  • Vernis die houtpanele vooraf.
  • Skuur jou planke vooraf.
HOUTWERK
  • Harde werk 3/10
  • Vaardigheidsvlak 3/10
  • Tyd nodig 1 tot 2 uur
  • Maak dit vir minder as R2000: hout en skroewe R1770, skarniere R200 (deure en vernis uitgesluit)

Wat jy nodig het 

INKOPIELYS 

  • drie blaaie laaghout, soos volg gesaag: twee 1940 x 350mm (sye); twee 640 x 350mm (bo- en onderkant); een 1904 x 640mm (rugkant); vyf 640 x 300mm (rakke)
  • vier 2400mm-lengtes 69 x 32 mm-geskaafde dennehout, gesaag in: vier lengtes van 2040mm (pote)
  • een pakkie 6mm x 40mm-skroewe
  • een pakkie 6mm x 16mm- skroewe
  • een pakkie 8mm x 30mm-skroewe
  • twee stelle 75mm-plaatskarniere
  • tweedehandse kasdeure
  • twee magnetiese deurstoppers
  • skuurpapier
  • plastiek-rakstutte 

GEREEDSKAP 

  • koordlose boor en 3mm- en 4,8 mm- boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • houtvuller
  • verfkwas 

So maak jy: Bou die kas ... 

1. Gebruik die 6mm x 40mm-skroewe en sit die 640 x 350mm- bo- en onderkant tussen die ente van 1940 x 350mm-sye vas om die raam van die kas te vorm.

2. Lê die raam plat neer, laat sak die rugkant binne-in en skroef dit van buite af aan die raamdele vas.

3. Skroef die vier dennehoutpote aan die buitekant van die kas op die hoeke vas; dit verstewig ook die raam waar die skaniere moet vaskom. 

4. Skroef die skarniere aan die binnekant van die deure vas en skroef die deure dan aan die voorkant van die kas vas. 

5. Skroef die stoppers binne-in die kas vas met die 6mm x 16mm- skroewe. Meet waar die rakke moet kom en boor die gate vir die rakstutte se pennetjies met die 4,8 mm-boorpunt. Sit die rakke in. 

VERFTEGNIEK
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 2/10
  • Tyd nodig 4 uur
  • Doen dit self vir R1060: drie blikke Annie Sloan-verf R750, was R310 
Jy kan oorskietverf van ’n ander projek gebruik om geld te spaar!

Wat jy nodig het 

INKOPIELYS 

  • Annie Sloan-verf in Pure, Old White en Duck Egg Blue 
  • Annie Sloan Soft Wax: Clear en Dark
  • maskeerband 

GEREEDSKAP 

  • verfkwas
  • afvalplankie
  • lap 

So maak jy: ’n Nuwe baadjie ...

1. Haal die deurknop af. Plak maskeerband oor die skarniere en buite-om die glaspanele. 

2. Verf ’n laag Annie Sloan in die kleur Old White oor die hele kasoppervlak. 

3. Vir die volgende laag gebruik jy die plankie pleks van die kwas. Laai ’n dik laag Pure-verf met die kwas op die plankie; smeer dit dan oor die kas. Jy sal agterkom dit bedek nie die eerste verflaag heeltemal nie, maar dis presies wat jy wil hê. Bedek die hele kas met dié tegniek. 

4. Vir die volgende laag gebruik jy die Duck Egg Blue met dieselfde tegniek as in stap 3. Begin met ’n meer soliede laag aan die kas se bokant en maak dit al hoe minder solied ondertoe. Laat die verf droog word. 

5. Verseël nou die verf met Annie Sloan Soft Wax. Begin met die Clear Wax en wend dan die Dark Wax plek-plek aan om die verf oud en verweer te laat lyk. 

6. Trek die maskeerband versigtig af.