Projekgids
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig ± 2 dae

Projeknotas

  • Sodra jy die grootte van jou braai bepaal het, laat ’n bouhandelaar soos BUCO ’n kosteberekening doen en presies uitwerk hoeveel materiaal jy nodig het.
  • As jy nie self die dagha of die beton wil meng nie, koop ’n klaar mengsel soos Ready Mix en voeg net water by volgens die aanwysings op die verpakking.
  • Vermy rivierklip vir bouwerk – dit kraak makliker.
  • Jy kan ’n bindvloeistof (kyk uit vir Dulux of Plascon Bonding Liquid) by die sementmengsel voeg as jy nie ’n ervare bouer is nie n wil seker maak die materiale bind goed met mekaar.
  • Moenie dadelik in jou vuurput vuurmaak nie – wag minstens een week, maar twee is beter.

Foto's Francois Oberholster
Stilering Marian van Wyk

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 2 tot 3 sakke sement
  • 20 sakke bousand
  • 8 tot 10 sakke klip
  • bindvloeistof (opsioneel)
  • 200 tot 240 bakstene

Gereedskap

  • staal- of houtpen
  • graaf
  • tou
  • waterpas
  • messeltroffel
  • spons
  • kruiwa
  • maatband
  • reihout of steierplank

So maak jy ...

Stap 1

1. Slaan ’n hout- of staalpen in die grond om die middelpunt van jou vuurput te merk. Maak ’n tou met ’n lus aan die pen vas en trek ’n sirkel in die sand volgens die grootte van die braai wat jy wil bou. Grawe ’n voor van sowat 10 cm diep en 30 cm breed (die lengte van ’n baksteen) rondom die lyn – dit sal die fondasie van jou vuurput se “muur” vorm.

Stap 2

2. Maak ’n betonmengsel van klip, sand, sement en water (sien regs); gooi dit in die voor. Maak die beton gelyk deur dit liggies van hoek tot kant te kap – dit sal enige lug wat in die mengsel vasgevang is, laat ontsnap. Pak nou ’n laag stene, met die breë sy na onder, langs mekaar op die fondasie. Maak die dagha aan volgens die aanwysings op die sak (sien ook regs) en messel die eerste laag stene vas. Maak gelyk met ’n waterpas. Maak seker dat die kop van elke steen na die pen in die middel wys. Laat staan die fondasie en eerste laag stene oornag voor jy die res bou.

Stap 3 en 4

3. Maak die volgende dag weer ’n daghamengsel aan en bou die volgende laag stene deur hulle eweredig oor die eerste laag te plaas, met ’n steen oor elke voeg in die eerste laag. Maak seker die voeë tussen jou stene is ewe groot. Gebruik die troffel se steel en kap elke steen in die dagha vas totdat dit stewig en waterpas is. Herhaal die proses tot jou vuurput die regte hoogte het en wissel die stene af dat opeenvolgende lae mekaar oorvleuel. Ons het 4 lae gebou.

4. Rond jou vuurput af deur die stene vir die boonste rand op ’n smal sy te draai wanneer jy dit inmessel. Verdun jou sementmengsel met water en saksmeer die struktuur in egalige sirkelbewegings met ’n spons. Maak seker dat die voeë tussen die stene mooi gevul en glad afgewerk is. Laat staan oornag om behoorlik te set.

Stap 5

5. Vul die binnekant van die braai op met sand tot twee lae stene van bo af en kompakteer dit goed – gebruik ’n paal met ’n plank dwars onderaan vasgespyker en stamp dit stewig vas. Maak nou weer ’n betonmengsel aan en giet ’n 100 mm-laag oor die gekompakteerde sand. Gebruik die waterpas of ’n reihout om dit met sirkelbewegings gelyk te maak en glad af te werk. Maak seker dat daar geen klippe meer uitsteek nie.

"Sommige bakstene het gate in. Deur die boonste laag stene op hul sykante te draai, wys die gate nie in die bo-rand nie." – Deon

Wenk Maak jou nuwe vuurput soggens en saans klam met jou tuinslang en ’n sagte sproeikop om te verhoed dat die sement te vinnig uitdroog en kraak; hoe stadiger die sementwerk droog word, hoe beter. Ons beveel aan dat jy dit vir minstens ’n week so aanklam.

Ken jou mengsels

Beton is ’n mengsel verkry deur sement, sand en gruis of klip met water aan te maak; dit bereik maksimum sterkte sowat 28 dae nadat dit gegiet is en word (in verskillende verhoudings gemeng) vir fondamente, paadjies, randstene, vloere, kolomme ensovoorts gebruik. In die betonmengsel vir ons doel is die verhouding van sement : sand : klip = 1 : 4 : 4.

Dagha is ’n mengsel van sand en sement wat met water aangemaak en vir messel- en pleisterwerk gebruik word. In ’n tipiese daghamengsel is die verhouding van sement : sand = 1 : 4.