PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur

Maak dit vir onder R950: hout en skroewe R900, skuurpapier en houtvuller R37 (verf uitgesluit)

Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Projeknotas
  • Onthou om gidsgaatjies te boor.
  • Skuur jou planke vooraf.
  • Indien jy jou plantboks wil verf, kies ’n goeie, waterbestande produk.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 22 x 44 x 3 000 mm- geskaafde dennehout, gesaag in:

vier lengtes van 600 mm (pote)

agt lengtes van 560 mm (kruise)

  • 22 x 69 x 3 000 mm- geskaafde dennehout, gesaag in:

vier lengtes van 600 mm (pote)

agt lengtes van 410 mm (dwarsplanke)

  • 18 mm-laaghout, gesaag in:

vier panele 500 x 482 mm (sye)

een paneel 500 x 500 mm (bodem)

  • een pakkie 6 mm x 50 mm- skroewe
  • een pakkie 8 mm x 30 mm-skroewe
  • waterdigte houtlym soos Alcolin Ultra Wood Glue
  • houtvuller
  • skuurpapier

GEREEDSKAP

  • koordlose boor, 3 mm-boorpunt en 12 mm-plaatboorpunt
  • potlood
  • maatband
  • figuursaag
  • verfkwas

So maak jy...

1 Lym en skroef die vier 500 x 482 mm-sye kloksgewys aan mekaar (sien skets) met die 6 mm x 50 mm-skroewe. Voltooi die “boks” deur die bodemplank ook op sy plek vas te lym en skroef.

2 Maak die pote deur die vier 22 x 69 x 600 mm-planke aan die vier 22 x 44 x 600 mm-planke te heg met lym en skroewe. Lym en skroef dan die pote op die hoeke van die boks vas, met die bokante gelyk met dié van die boks. Skroef nou die 410 mm-dwarsplanke tussen die pote vas sodat dit ’n raam op elke sy vorm.

3 Plaas nou een van die 22 x 44 x 560 mm-kruisplanke diagonaal oor ’n sy en merk die hoek waarteen die ente gesaag moet word sodat dit in die raam pas. Herhaal met al agt kruisplanke. Sit ’n kruisplank in posisie en posisioneer nog een bo-oor om te bepaal waar en teen watter hoek dié een gesaag moet word om die kruis te voltooi. Saag vier van die planke soos gemerk, en lym en skroef al vier kruise vas.

4 Draai die boks onderstebo, merk sowat vyf dreineringsgate eweredig gespasieer en boor dit met die 12 mm-plaatboorpunt. Vul skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word; skuur dan deeglik. Verf of vernis die boks in die kleur van jou keuse.

KONTAK EN VERSKAFFER

Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za

Timbercity 021 927 5000