Die vervaardigers van Tjhoko Paintkrytverf het ’n nuutjie in hul arsenaal: ’n reeks plakpapier wat selfs die groenste groentjie self kan hang.

Met dié reeks kan jy enige saai ruimte ’n gedaantewisseling gee. Al wat jy moet doen, is knip en plak – soos die Tjhoko-kenner Nadine hier wys. 

Hou Tjhoko se webblad (tjhokopaint.co.za) en sosiale media dop om te sien wanneer dié opwindende nuwe produk beskikbaar is.

Wat jy nodig het:

• Tjhoko-plakpapier (elke rol is 11,8 m lank en 62 cm breed)

• winkelhaak

• potlood

• waterpas

• matmes

• lakverdunner

• vleisdoek

• 50 mm-verfkwas

• 110 mm-sponsroller

Só maak jy ...

1 Tjhoko-muurpapier is selfklewend. Trek eenvoudig ’n smal strook van die ruglaag af, vou om en druk plat.

2 Druk nou die taai deel plat teen die muur gelyk met jou beginstreep (sien wenke), en druk vas. Trek die ruglaag stadig weg – in hanteerbare lengtes – en druk die papier egalig teen die muur vas.

3 Ons het plakpapier met nulletjies en kruisies gebruik. Wanneer jy met ’n nuwe rol van hierdie ontwerp begin, sorg dat die motiewe reg op mekaar volg en daar nie twee nulletjies of twee kruisies langs mekaar val nie.

  • Die plantpot wat as lampskerm ingespan is, is met Thinus’s Terracotta geverf.
  • Die liasseerkabinet is  met lakverdunner skoongemaak, en ná droogtyd van 40 minute geverf en gestensil met Matt Black en Da’vid. Gebruik ’n baie droë sponsroller sodat die  verf nie onder die  stensil inloop nie.
  • July is op die kunsleer-sitplekke asook die sementpot op die liasseerkabinet gebruik.
WENKE

• Jou muuroppervlak moet glad wees.

• Begin altyd met ’n waterpas horisontale lyn, want selfs plafonne is nie altyd reguit nie.

• Plak nuwe panele reg teen die vorige strook om skeidslyne te vermy. Verbloem flaters deur jou muur met ’n mat PVA-verf in dieselfde kleur as die plakpapier se agtergrond te verf (laat dan twee weke droogtyd vir die verf toe).

• As jy wegspring en besef die papier is skeef, kan jy dit versigtig lostrek en herposisioneer.

KONTAK Tjhoko Paint 073 206 3104