Inkopielys

• ongevoerde katoengordyne

• Heritage Fabric Paint (te kry by PNA, Builders of handwerkwinkels)

Gereedskap

• plastiekhouer (’n bababad werk goed)

• afvalstuk katoen

• strykyster

• bottel met skroefdop

So maak jy...

1. Was die gordyne sodat jy kan seker wees dis skoon en stofvry. Moet dit nie laat droog word nie – die verf kry ’n mooi gelaagde voorkoms as jy dit nat in die verf doop. Ongevoerde katoengordyne sal die verf die beste absorbeer.

2. Verdun 250 ml materiaalverf in 1 liter water; maak seker die verf is goed gemeng, anders kan dit oneweredige kolle op die lap veroorsaak.

3. Maak ’n groot plastiekhouer sowat twee derdes vol water en voeg dan die verfoplossing by. Toets die kleur op ’n afvalstuk katoen voor jy die gordyn daarin doop.

4. Laat sak die nat gordyn met die bokant (die gordynhofie) eerste in die houer. Die lengte lap wat jy in die vloeistof doop, hang af van tot waar op die gordyn jy kleur wil hê. Laat die onderdompelde stuk gordyn in die houer week terwyl die ander ent oor die rugleuning van ’n stoel hang.

En doen dit weer

Laat die gordyn ’n uur lank week en hang dit dan uit om droog te word – maak seker die ongedoopte deel kom nie met die verf in aanraking nie. Ná die eerste doopslag sal die gordyn ’n redelik ligte kleur hê as dit droog is; hou net aan doop en droog maak tot jy tevrede is met die kleurintensiteit. Laat die gordyn heeltemal droog word ná die laaste doopslag en stryk dit dan om kleurvastheid te verseker.

Wenk Verdun die verf in ’n groot fles of bottel met ’n skroefdop – dan kan jy dit lekker skud en ’n klontvrye mengsel verseker.

Hou jy van die driehoekige patroon teen die muur?

Dis met ’n stempel en Annie Sloan se Graphite-verf gedoen. So maak jy: Wend die verf met ’n sponsroller op die stempel aan en druk dit in ’n onreëlmatige patroon teen die muur vir monochroom trefkrag. Bestel joune by homeology.co.z