Lisa Spaarwater van Lemon and Lilac deel twee tegnieke om ’n terracottaplantpot ’n antieke wit voorkoms te gee:

1. Gebruik jogurt om die potte te “verouder”

Verf eenvoudig gewone jogurt oor die hele pot. Laat staan dit dan in ’n skadukol vir sowat ’n maand. Indien jy ’n subtieler effek in gedagte het, week die pot eers vir sowat 15 minute in water voor jy die jogurt aanverf.

2. Gebruik die antieke pleisterkalkmetode om die pot ouer te laat lyk en tekstuur te verskaf:

  • Meng 1 liter waterbasisverf met 50 ml Polyfilla – dis makliker om mee te werk as sement.
  • Wend ’n dun laag van die mengsel oor die terracottapot aan met ’n skraper; werk in verskillende rigtings totdat die hele pot bedek is.
  • Wanneer jy tevrede is met die voorkoms, laat dit droog word. Indien jy ’n subtieler voorkoms verlang, laat die pot effens droog word en werk die tekstuur ’n bietjie gladder af.
  • Jy kan ook jou stempel afdruk deur ontwerpe op die oppervlak te graveer.
  • Laat dit dan heeltemal droog word.
  • Gee die pot ’n nog meer antieke voorkoms deur waterbasisverf van jou keuse in ’n donkerder kleur, gemeng met newelglasuur (“scumble glaze” – volg die mengaanwysings op die blik), met ’n vleisdoek aan die pot te vryf; of gebruik kunstenaarsolie in die kleur Raw Umber, gemeng met ’n paar druppels terpentyn, en wend dit met ’n droë vleisdoek aan die pot.