Fles-kers, vaas, bakke en kleinborde van MRP Home; glase van Woolworths

Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS

Harde werk 1/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig 2 uur

Maak dit self vir R340 (die prys van 5 houtkissies)

Ki(t)skuns

Versier houtkissies van verskillende groottes en stapel dit op mekaar in die vorm van ’n Kersboom – dis ook ideaal om geskenke in te sit!

Wat jy nodig het

GEREEDSKAP

• kunstenaarskwaste

• mes

• ster-koekiedrukker

INKOPIELYS

• maskeerband

• oorskietverf

• merkpenne

• wynproppe

• aartappel 

Só maak jy ...

Kissie 1 Plak strepe van verskeie breedtes met die maskeerband en verf dit in verskillende kleure. Trek die maskeerband af en herhaal met nog lyne.

Kissie 2 Plak driehoeke aan een sy van die kissie en verf dit in verskillende kleure. Trek die maskeerband af wanneer die verf droog is en plak nog driehoeke wat met die eerstes oorvleuel. Verf dit in verskillende kleure. Trek die maskeerband af.

Kissie 3 Gebruik ’n merkpen en teken ’n “toutjie” oor die lengte van die kissie. Doop die kurkproppe in drie verskillende kleure verf en druk sirkels onder die tou wat jy geteken het. Laat die verf droog word. Teken nog toutjies en hakies waaraan die “balletjies” hang.

Kissie 4 Neem die merkpenne en teken bome op die kissie.

Kissie 5 Maak ’n aartappeldrukker met behulp van die koekiedrukker en die mes. Wend ’n bietjie verf aan die aartappel met ’n kwas en druk die patroon teen die kissie se sy.

Wenk
Span dieselfde tegnieke as hierbo in om ’n sak met ’n intrekkoord te versier as geskenksak.

Prettige servette

Hier is ’n paar verskillende maniere om servette te versier; gebruik al die tegnieke vir ’n eklektiese stel, of kies een tegniek sodat almal eenders lyk.

PROJEKGIDS

Harde werk 1/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig 2 uur

Maak dit self vir R379 6 servette R150; lapverf in 4 kleure R65; 3 materiaal-penne R140; borduurgare R24

Wat jy nodig het

GEREEDSKAP

• borduurring

• borduurnaald

• kwas

• strykyster

INKOPIELYS

• servette

• materiaal-penne

• kurkproppe

• lapverf

• aartappel

• kruissteekpatroon

• borduurgare

Só maak jy ...

Servet 1 Teken eenvoudige herhalende motiewe op die hele servet met die materiaal-penne. Met party materiaal-penne moet jy die agterkant van die lap stryk om dit kleurvas te maak.

Servet 2 Laai ’n kruissteekpatroon af en druk dit uit. Knyp die hoek van die servet in die borduurring vas en steek die patroon aan die lap vas. Borduur deur die papier volgens die patroon. Verwyder die papier wanneer jy klaar is.

Servet 3 Gebruik die kurkproppe en lapverf om ’n polkakol-motief op die servet aan te bring. Wag tot die verf heeltemal droog is en stryk die agterkant om die verf kleurvas te maak.

Servet 4 Sny die aartappel middeldeur en sny ’n driehoek uit om jou motief aan te bring. Verf verskillende kleure verf met ’n kwas aan die aartappel en druk die patroon op die servet. Wag tot die verf heeltemal droog is en stryk die agterkant om die verf kleurvas te maak.

’n Feestelike krans

Maak ’n krans wat jy vir enige geleentheid kan gebruik!

PROJEKGIDS

Harde werk 1/10

Vaardigheidsvlak 1/10

Tyd nodig 1 uur

Maak dit self vir R225 Polistireen-krans R25; krale R200

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• polistireen-krans

• mengsel van klein hout- en kleurvolle krale

• lint vir ophang

GEREEDSKAP

• gompistool

Só maak jy ...

Plak die krale aan die krans met behulp van die gompistool en bedek die hele voorkant van die krans. Hang dit op met die lint.

VERSKAFFERS