Dis nie nodig om geskenkpapier en kerskaartjies ten duurste te koop nie; hier is ’n paar slim idees om geld te spaar en nog steeds die oulikste geskenke onder die boom te hê.

So maak jy:

https://youtu.be/z1dKeGebJCM

Vir die geskenkpapier

  • aartappel
  • skerp mes
  • ster-koekiedrukker (of enige ander feestelike vorm)
  • verf
  • bruinpapier

Stap 1: Sny die aartappel middeldeur. Druk die koekiedrukker in die vleis van die aartappel. Sny die negatiewe ruimte om die vorm weg met die mes.

Stap 2: Gooi die verf uit op ’n bordjie. Druk die aartappel-stempel in die verf en dan op die papier. Bedek die hele papier met die motief. Laat die verf goed droog word en trek jou geskenk daarmee oor.

Vir die Kerskaartjie

  • uitveër
  • potlood
  • handwerkmessie
  • ink
  • etikette

Stap 1: Teken ’n eenvoudige kersboom op die uitveër.

Stap 2: Gebruik die handwerkmessie om die negatiewe ruimte om die vorm weg te sny.

Stap 3: Druk die kersboompies op die etikette met jou uitveër-stempel en ink.

Vir die Kersvaderbaard-versiering

  • papier
  • potlood
  • skêr
  • pons
  • tou

Maak so: Teken ’n Kersvader-baard op papier so groot soos die geskenk en sny dit uit. Pons gaatjies aan die kante en maak met die tou aan die geskenk vas.

Nog ’n idee: Gebruik vilt pleks van papier om ’n geskenk toe te draai.