Muurteëls van Union Tiles; interieur-ontwerp deur Lara Myerson Designs

Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur

Maak dit vir onder R1 500: hout R450, skroewe R50, gegalvaniseerde pyp R730, vernis R135, verf R90

 

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• 18 mm-laaghout, in die volgende stukke gesaag:

  • vier 750 x 50 mm (rakstutte)
  • een 750 x 350 mm (rak)
  • twee 750 x 100 mm (bottelrak)
  • een 700 x 50 mm (glasrak se rugkant)
  • twee 132 x 50 mm (glasrak se sye)
  • een 700 x 150 mm (glashanger)
  • twee 950 x 400 mm (blad)

• gegalvaniseerde waterpype (15 mm)

  • ses 750 mm-lengtes
  • vier 150 mm-lengtes
  • vier T-sokke
  • agt flense

• een pakkie 6 mm x 50 mm-spaanderbordskroewe

• een pakkie 8 mm x 30 mm-spaanderbordskroewe

• een pakkie 8 mm x 40 mm-spoorskroewe

• een pakkie wasters

• houtlym (Alcolin Fast Set Wood Glue)

• houtvuller • skuurpapier

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm- boorpunt, asook 25 mm- en 40 mm-plaatboorpunt

• figuursaag

• potlood

• maatband

• winkelhaak

• waterpomptang

• 13 mm-soksleutel

Projeknotas

• Onthou om gidsgaatjies te boor.

• Skuur jou planke vooraf.

Só maak jy ...

1 Maak ’n stel pote deur drie 750 mm-pype in ’n U-vorm te verbind met twee T-sokke; heg ’n 150 mm-pyp aan die onderkant van elke T-sok en rond af met ’n flens onderaan elke 150 mm-pyp. Herhaal vir die ander stel pote.

2 Vir jou bottels Skroef die vier 750 x 50 mm-rakstutte onderaan die 750 x 350 mm-rakplank vas (sien skets 1 onder). Meet en merk een van die 750 x 100 mm-bottelrakplanke soos op skets 2 (sien onder). Boor gate met die 40 mm-plaatboorpunt en saag met die figuursaag gleuwe al langs die potloodlyne uit (sien skets 2 onder) waarin die bottelnekke kan rus. Skroef dié uitgesnyde en die ander 750 x 100 mm-bottelrakplank op hul plek vas (sien skets 2a onder) om die wynrak te voltooi. 

3 Vir jou glase Lym en skroef die twee 132 x 50 mm-sye vir die glasrak haaks op die ente van die 700 x 50 mm-rugkant vas om ’n raam te vorm (sien skets 3 onder). Skroef die 700 x 150 mm-glashangerplank bo-op die raam vas. Meet en merk die glashangerplank (sien skets 4 onder). Boor dan gate met die 25 mm-plaatboorpunt en saag met die figuursaag gleuwe al langs die potloodlyne uit waarin die glase kan skuif. Lym en skroef die glaserak nou aan een van die 950 x 400 mm-bladplanke vas (sien skets 5 onder).

4 Blad Keer dié bladplank met die glaserak om bo-op die ander 950 x 400 mm-bladplank en skroef vas sodat die blad nou ongeveer 36 mm dik is.

5 Merk die posisie vir die pote op die blad se onderkant, skroef ’n flens aan die bopunt van die vier pootpype en skroef die flens aan die blad vas met die spoorskroewe. Draai die dranktafel regop en plaas die bottelrak in posisie oor die pote se dwarspype. Vul alle sigbare skroefgate met houtvuller en skuur deeglik sodra dit goed droog is. Rond af met verf of vernis in die kleur van jou keuse. Ons het Woodoc Water-Borne gebruik vir die hout en Duram NS5 vir die staal. 

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Hout verskaf deur Timbercity