Foto’s Francois Oberholster • Stilering Shelly Bergh

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur

Maak drie bankies vir onder R1 400: Hout R1 170, skroewe R100, skuurpapier R26, houtvuller R30 (verf/vernis uitgesluit)

Projeknotas

  • Onthou om gidsgate te boor.
  • Skuur jou planke vooraf.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 22 x 220 mm- geskaafde dennehout, in die volgende lengtes: drie van 1 000 mm (sitplek) ses van 400 mm (pote)
  • 22 x 95 mm- geskaafde dennehout, in: ses lengtes van 1 000 mm (rande)
  • 22 x 44 mm- geskaafde dennehout, in: twaalf lengtes van 360 mm (stutte)
  • ’n pakkie 6 mm x 50 mm-skroewe
  • houtvuller
  • skuurpapier

GEREEDSKAP

  • koordlose boor, 3 mm-boorpunt en 35 mm-plaatboorpunt
  • potlood
  • maatband
  • winkelhaak
  • rugsaag
  • beitel
  • hamer
  • klampe
  • figuursaag

So bou jy die bankies

1 Saag al die ente van die 44 x 360 mm-stutte skuins teen 45 grade (sien foto). Meet en merk die posisie van die pote 100 mm van elke ent van die 220 x 1 000 mm-sitplek af; merk ’n strook so breed soos die poot se dikte om aan te dui waar die skroewe deur die sitplek moet gaan en boor gidsgate. Lym en skroef die pote vas.

2 Meet en merk die posisie vir die stutte: 255 mm van die bokant van die sitplek teen die poot se rand af, en 255 mm van die kant van die sitplek teen sy voorste rand af. Hou die stut in posisie en merk waar jy ’n voeg in die poot en in die sitplek moet uitsny. Trek die uitsnylyne haaks met die winkelhaak en merk ook die dikte van die stut op die kant van die poot en die sitplek.

3 Saag al met die lyne langs tot by die dieptelyn en gebruik dan die beitel en hamer om die hout te verwyder sodat die stut gelyk met die rand in die sitplek en die poot kan pas. Boor gidsgate en lym en skroef die stut vas. Herhaal tot al vier stutte op hul plek is.

Wenk Gebruik ’n houtklamp as jy alleen werk om jou taak te vergemaklik en te verseker dat die pote haaks met die sitplek is.

4 Plaas ’n 95 x 1 000 mm-rand op die kant van die bankie en merk waar jy die gom aan die stutte moet smeer. Lym en skroef die rand aan die sitplek en stutte vas, gelyk met die bankie se bokant en ente. Merk die dikte van die sitplek op die ent van die randplank en trek ’n 45-gradelyn. Saag al langs die lyn om die rand af te rond. Herhaal by die ander ent en met die ander randplank.

5 Keer die bankie om, met sy pote na bo, en merk ’n V-profiel (sien foto). Boor met die plaat- boorpunt ’n gat op die punt van die V en saag dan die res met die figuursaag uit. Vul al die skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word alvorens jy die bankie deeglik skuur. Herhaal die proses vir nog twee bankies.

Drie bankies kan saam in verskillende kombinasies gebruik word na gelang van jou behoeftes. – Deon

Op ’n streep

Verf jou bankies vir ’n vars, funky effek.


PROJEKGIDS

Harde werk 1/10

Vaardigheidsvlak 3/10

Tyd nodig 1 dag

Doen dit self vir ± R385: 7 toetspotjies verf teen ± R55 elk

Projeknotas

As jy PVA- of emaljeverf gebruik, moet jy die bankies eers met ’n onderlaag voorberei. En as jy krytverf gebruik, onthou om dit agterna te verseël met was.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • enige oorskietverf in die kleure van jou keuse
  • krytverf en was of seëlaar
  • breë maskeerband (ons s’n was 7,3 cm breed)

GEREEDSKAP

  • verfkwaste
  • G-klampe

1 Verf twee van die bankies se sitplekke met twee lae wit of naaswit verf. Laat die verf droog word tussen lae.

2 Terwyl die twee bankies droog word, meet en merk die middelpunt op die oorblywende bankie se sitplek. Gebruik die rol maskeerband om intervalle van dieselfde breedte oor die sitplek te merk. Plak elke tweede streep toe.

3 Verf al die ontblote strepe met twee lae verf van jou keuse. Laat die verf goed droog word tussen lae.

4 Wag tot die tweede laag droog is en trek die maskeerband versigtig af.

5 Plak nou die strepe toe wat jy in stap 3 geverf het.

6 Verf al die oop strepe met twee lae verf van jou keuse. Laat elke laag goed droog word. Trek die maskeerband versigtig af wanneer die tweede laag droog is.

7 Stapel die drie bankies op hul sye op mekaar, met die gestreepte een bo. Gebruik afvalhout as spasieerders tussen die pote en klamp die sitplekrande aan mekaar. 

8 Plak die onderste rand van die bankie met die soliede strepe toe. Verleng nou elk van die soliede strepe tot sowat halfpad oor die middelste bankie – laai jou kwas met die verf en laat dit oor die middelste en onderste bankie afdrup. Verf elke tweede streep, en laat dit droog word. Herhaal dan met die strepe tussenin. Laat staan tot die verf heeltemal droog is.

KONTAK EN VERSKAFFERS

Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za

H&M Home 0860 690 707, hm.com/za

Timbercity 021 927 5000, timbercity.co.za

Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za

Hout verskaf deur Timbercity Hoed, serp, skoene, glase, bord en bakkies van Woolworths; waatlemoen-bord van H&M Home