Tyd nodig: 3 uur, droogtyd uitgesluit

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • Lafarge DuraBuild
  • bousand
  • water
  • groot silikoon-jellievorm en groot, ronde plastiekhouer (ons het die deksel van ’n plastiek-koekbord gebruik) om die sement in te giet
  • 2 emaljebakke wat binne-in die gietvorms pas (die bak se rand moet net so groot soos die houer se boonste binnerand wees)
  • modelleerklei (Plasticine)
  • kossproei (as losmaakmiddel)

GEREEDSKAP

  • emmer om in te meng
  • rubberhandskoene
  • troffel
  • nutsmes
  • alfabet-koekiedrukkers
  • koekroller
  • klippe

Só maak jy...

1 Vir die waterbak Rol die modelleerklei sowat 6 mm dik uit. Neem dan die koekiedrukkers en druk die letters van jou hond se naam uit die klei.

2 Sit die klei-letters aan die binnekant van die ronde plastiekhouer. Druk dit liggies vas sodat die vorm nie verander nie. Onthou om die letters verkeerdom in die gietvorm te sit sodat dit van buite af reg sal lees.

3 Vir die kosbak Sny die tuit in die middel van die jellievorm uit met ’n nutsmes en vul die gat met die modelleerklei. Doen dit liefs op ’n stuk afvalhout; dit sal dan makliker wees om die vorm te skuif terwyl die sement nog nat is.

4 Meng 1 deel DuraBuild met 3 dele sand. Voeg dan water by (sowat 2–3 dele, afhangend van hoe klam die sand is) en meng tot dit so dik soos koekiedeeg is. Meer as een mengsel kan nodig wees om albei gietvorms te vul.

5 Vul die jellievorm met die sementmengsel tot amper vol. Sit die emaljebak in die middel en druk dit vas. Sit klippe in die bak om dit stewig in plek te hou en skud dit liggies om ontslae te raak van enige lugborrels. 

6 Spuit die binnekant van die ronde houer met die letters met kossproei. Sit die tweede emaljebak onderstebo daarin en vul met die sementmengsel; skud liggies om ontslae te raak van lugborrels. Laat albei gietvorms 24–48 uur staan om droog te word. 

7 Haal die bakke uit die vorms wanneer die sement droog is. Verwyder die klei-letters versigtig met ’n tandestokkie uit die waterbak se rand.

Vir nog inligting, besoek lafarge.co.za.

DuraBuild-sement is in sekere provinsies beskikbaar.