Foto’s Francois Oberholster

Deursigtige houers van @home; draadmandjies van H&M; viltmandjies en wit plastiekmandjies van MRP Home

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 3/10

Tyd nodig 2 tot 3 uur

Maak dit vir ± R2 465: Hout R1 860, spykers R65, Alcolin Acrylic Sealant R25, skuurpapier R10, houtvuller R30, verf R475

Een deel van die kas dien as spens, waar bêrehouers op rakke en in draadmandjies teen die deur die beskikbare ruimte ten beste benut.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• twintig 3 000 x 10 x 44 mm-dennehoutplanke

• twee 3 000 x 530 mm- gelamineerde dennehoutplanke

• ’n pakkie 15 mm-paneelspykers

• ’n pakkie hoekblokkies

• ’n pakkie 8 mm x 16 mm-skroewe

• vier 6 mm x 55 mm-inkapskroewe

• dennehoutvuller

• 220-grint-skuurpapier

• verf van jou keuse

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm-boorpunt

• potlood

• maatband

• winkelhaak

• hamerboor en 6 mm-klipboorpunt

• pneumatiese spykergeweer

• verfkwaste

Projeknotas

• Pas die hoeveelhede en mate aan volgens die grootte van jou kas.

• Meet twee keer voor jy die hout saag.

• Skuur jou planke vooraf.

So maak jy...

1 Verwyder al die handvatsels van die deure en vul die skroefgate deeglik met houtvuller. Meet die lengte van die onderste deure en saag die 10 x 44 mm-dennehoutplanke daarvolgens. Gebruik Alcolin Acrylic Sealant as kleefmiddel en skiet die vertikale planke met jou spykergeweer en paneelspykers op hul plek vas.

2 Meet en saag die dwarsplanke een vir een terwyl jy deurgaans seker maak van die mate. Lym en skiet die boonste en onderste planke op hul plek vas en maak seker dat die middelste planke 100% waterpas is voordat jy dié ook vasskiet. Herhaal dieselfde proses op die boonste deure.

3 Ons het een deel van die kas verdeel met twee afskortings: een (agter die vertikale stut in die middel) wat die hele ruimte in twee verdeel, en nog een regs. Merk die posisie vir elke afskorting; meet en saag twee gelamineerde planke in die verlangde lengte en breedte. Sit die eerste een regs (bo en onder) vas met die hoekblokkies en 8 mm x 16 mm-skroewe; skroef ook twee hoekblokkies aan die verdeler vas as rakstutte. Skroef nog twee hoekblokkies op die ooreenstemmende posisies aan die tweede verdeler vas en sit dié verdeler agter die vertikale stut vas. Saag die rakkie sodat dit tussen die verdelers sal pas.

4 Skroef twee oorskietstukke dennehout teen die muur vas waar die groter rakke links moet rus. Meet en saag die twee rakke en skroef op hul plek vas met hoekblokkies. Vul skroef- en spykergate met houtvuller en laat dit goed droog word voordat jy die planke skuur.

5 Merk waar jy die draadrakkies aan die binnekant van die deure wil vassit, maar maak seker dit gaan nie in die pad van die rakke in die kas wees nie. Boor nuwe gidsgate vir die handvatsels.

Danksy die nuwe verdelers kan dié deel van die kas nou ’n strykplank, mop en besems aan die een kant en die stofsuier, emmer en herwinmandjie langsaan akkommodeer. Die binnekant van een deur het ’n laag swartbordverf gekry.

Met al die houtwerk klaar, het ons die dele wat voorheen geverf was, geskuur en daarna al die oppervlakke met Duram Universal Undercoat voorberei. Toe het ons die kas binne geverf met Duram NuGlo in die kleur Twist of Lemon en die buitekant met Celestial Shadow. Laastens kon die draadrakkies en handvatsels op hul plek vasgeskroef word.

Swart mandjie van MRP Home

KONTAK EN VERSKAFFERS

@home 0860 66 66 74 

Deon de Goede 084 589 5026 deon@diydeon.co.za

H&M 0860 690 707 

MRP Home 0800 212 535  

Hout verskaf deur Timbercity