Foto’s Francois Oberholster

Seshoekige teëls van Pudlo

Wat jy nodig het

Inkopielys

• berke-laaghout – so groot soos jou tafelblad gesaag

• 14 seshoekige teëls in grys en liggrys

• kontakkleefmiddel

• Woodoc Water-Borne Floor Matt

• teëlgom

• liggrys voegbry

• helder silikoon

Gereedskap

• potlood

• liniaal

• spasieerders (ons het sosatiestokkies gebruik; jy kan regte teël-spasieerders of vuurhoutjies gebruik)

• G-klampe

• figuursaag

• boor met 8 mm-houtboorpunt

• aanwenders vir kleefmiddel en teëlgom

• verfkwas

• houer om voegbry in te meng

• spons

• lap

PROJEKGIDS
  • Harde werk 2/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig 5 uur, droogtyd uitgesluit
  • Doen dit self vir R1 280: Berke-laaghout R555, teëls R170, kontakkleefmiddel R100, teëlgom R150, voegbry R45, Woodoc Water-Borne Floor R260


Só maak jy ...

1 Sit die laaghout op jou tafelblad. Rangskik die teëls in ’n organiese ontwerp op die blad. Ons het ’n paar bymekaar in die middel gepak en ’n paar verder weg. Gebruik die liniaal om seker te maak jou teëls bly parallel met die tafel se rande.

2 Sit spasieerders tussen die teëls wat langs mekaar lê (dis vir die voegbry later).

3 Wanneer jy tevrede is met die ontwerp van jou teëls, trek dit af met ’n potlood. Haal die teëls van die laaghout af.

4 Klamp die laaghout aan jou werkblad vas. Boor ’n gat in die areas wat jy met die potlood afgetrek het. Saag dan die hout uit waar jy die teëls wil lê.

5 Sit die laaghout op die blad neer en trek die uitsnydetail op die tafelblad af.

6 Draai die laaghout om en smeer kleefmiddel aan die agterkant. Smeer ook kleefmiddel aan die tafelblad rondom die afgetrekte dele. Sit die laaghout op die tafel neer sodat die twee lae kleefmiddel kontak maak. Druk vas om dit te laat kleef.

7 Verf die hout met twee lae Woodoc Water-Borne Floor Matt. Laat dit droog word tussen lae.

8 Wend die teëlgom in die openinge aan en posioneer die teëls. Gebruik spasieerders waar nodig. Laat dit 24 uur staan sodat die gom kan droog word voor jy voegbry aanwend.

9 Meng die voegbry volgens die aanwysings op die pak en smeer dit in die openinge tussen die teëls. Verwyder enige oortollige voegbry met ’n klam spons. Laat dit 24 uur staan om droog te word.

10 Wag tot die voegbry droog is en verwyder enige reste op die teëls met ’n klam lap.

11 Seël enige gapings tussen die hout en die teëls met helder silikoon. 

VERSKAFFER