Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • toepaslike standaardlengtes IsoBoard
  • versteekte plafonknippe (ingesluit by die IsoBoard)
  • kleefmiddel in buise of houers
  • kroonlyste
  • klein houtskroewe om die knippe mee vas te maak (10-15 mm)
  • langer hout- of droëmuurskroewe om die IsoBoard aan die sye vas te maak; die kroonlyste sal die skroewe bedek (die lengte van die skroef hang af van die dikte van die IsoBoard wat jy gekies het; die dikte van die skroef moet die IsoBoard se dikte plus 15 mm wees)

GEREEDSKAP

  • maatband
  • potlood
  • battery-aangedrewe boor/skroewedraaier
  • gompistool of spatel
  • nutsmes
  • rei om die mes reguit te hou wanneer jy sny

So installeer jy die IsoBoard

Soos altyd is deeglike voorbereiding die geheim tot sukses!

Voor jy begin Besluit op die rigting waarin die borde moet loop en kies die toepaslike standaardlengte om vermorsing tot ’n minimum te hou (standaardlengtes wissel van 2 400 mm tot 8 000 mm). Kies die IsoBoard se dikte volgens jou behoeftes: dikker borde bied meer termiese weerstand; 30 mm- of 40 mm-dikte is verskieslik vir plafonne.

Installeer die stutte vir die latwerk: die maksimum spasiëring is 750 mm; 600 mm is ideaal vir binnenshuis en jy moet 400 mm-spasiëring gebruik vir buite en areas met sterk wind. Daar moet latwerk reg rondom elke muur se rand wees om die bord aan albei kante stewig vas te maak.

1. Sny op maat Die bord kan maklik met ’n skerp nutsmes gesny word; gebruik altyd die rei om seker te maak jy sny reguit. Sny die bord en posisioneer dit om seker te maak dit pas voor jy die kleefmiddel aanwend.

2. Wend kleefmiddel aan Gebruik 5 ml op ’n slag (sowat ’n teelepel) in 200 mm-intervalle op die latwerk. Moenie die kleefmiddel smeer nie; dit moet kontak maak met die latwerk en die IsoBoard. Die kleefmiddel is die permanente hegmiddel wat die IsoBoard in plek hou.

3. Sit die borde in plek Druk die eerste bord teen die kleefmiddel vas.

4. Draai die skroewe langs die sye vas Maak die bord al langs die sye met die droëmuurskroewe vas.

5. Sit die versteekte knippe in Maak die bord aan die sentrale latwerk vas met die verskteekte plafonknippe en klein houtskroewe.

6. Herhaal Meet, sny, pas en installeer die volgende borde; dit pas inmekaar met tong-en-groef-panele.

7. Sny en pas die laaste bord Maak die bord met die droëmuurskroewe vas.

So installeer jy die kroonlyste

1. Merk gidslyne Gebruik ’n potlood om te merk waar die kroonlyste mekaar gaan kruis sodat jy die regte hoeke kan sny.

2. Meet en sny Meet en saag die lyste tot die gewenste lengtes

3. Merk en saag hoeke Gebruik ’n gids om die hoeke netjies te kry.

4. Wend kleefmiddel aan en plak vas Wend ’n druppel kleefmiddel aan albei punte, asook in die voeg waar die twee lengtes bymekaarkom. 

5.Vul lasse en werk glad af Vee enige oortollige kleefmiddel af met ’n klam spons. Maak enige klein foute reg met Painters Mate of iets soortgelyks.

Ter afronding Verf met twee lae waterbasisverf of houtbeits.

Projeknotas
  • Gebruik altyd kleefmiddel!
  • Maak altyd die IsoBoard-lengtes stewig vas aan albei kante van die latwerk aan die rande.
  • Vermy stootlaste: maak seker die bord loop van muur tot muur.
  • Moenie voeë met pleister probeer vul vir ’n afgroende voorkoms nie. Bestel die borde met ’n afgeskuinste rand of Isopine-afwerking.