Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS

Harde werk 1/10

Vaardigheidsvlak 5/10

Tyd nodig Vakansieprojek

Doen dit self vir ±R740: chemikalieë R450, sement R170, modelleerklei R120

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 2 kg modelleerklei
  • 2 kg poliuretaanrubber (Vytaflex 30; Deel A en Deel B)
  • Ease Release
  • Aquacon
  • afvalstukke melamien (jy sal ’n blad van 600 x 450 mm en vier planke van sowat 60 x 450 mm nodig hê)
  • sement
  • sand
  • water

GEREEDSKAP

  • koekroller
  • mes
  • ronde bakkie
  • liniaal
  • figuursaag
  • gompistool
  • spuitbottel
  • mengbakke
  • plankie vir meng (ons het ’n plastiekliniaal gebruik)
  • hamer
  • latekshandskoene
  • verfkwas

Projeknotas

  • Die hoeveelheid chemikalieë wat jy gebruik, sal afhang van hoe groot jou stene is.
  • As jy met chemikalieë werk, maak seker jy doen dit in ’n goed geventileerde ruimte, en dra altyd latekshandskoene.

So maak jy...

1 Werk op die melamienblad. Vorm die modelleerklei in ’n bal en dan in ’n plat sirkel. Gebruik die vier melamienplanke (sit twee op mekaar) as spasieerders aan weerskante van die moddelleerklei, en gebruik die koekroller om dit nog ’n bietjie platter te maak. Jou klei moet omtrent 32 mm dik wees.

Gebruik die mes en bak om ’n sirkel uit die klei te sny.

3 Maak drie merke op die rand van die sirkel: twee op die middellyn en nog ’n merk halfpad tussen dié twee merke.

4 Gebruik die bak se rand om die merke wat jy in stap 3 gemaak het, met twee geboë lyne te verbind.

5 Sny die klei weg volgens die lyne wat jy in stap 4 getrek het.

6 Gebruik die mes om die rand van jou vorm af te skuins; stryk dit dan glad met jou vingers. Neem jou tyd met dié stap, want dit is die prototipe vir jou plaveistene. Jy kan ’n ou bankkaart en mes gebruik om die hele oppervlak netjies glad af te werk.

7 Span nou die gompistool en die 60 mm-planke in en maak ’n boks rondom die kleivorm. Jy sal die laaste plank met ’n figuursaag moet saag om seker te maak dit pas. Bou die boks redelik knap rondom die vorm, met sowat 20 mm spasie rondom. Verseël al die rande met die gompistool en spuit met Ease Release (dit sal die gestolde rubber losmaak).

8 Meng Deel A en Deel B van die poliuretaanrubber in ’n skoon emmer; roer vir 3 minute met die plankie.

9 Giet die poliuretaanrubber in die boks wat jy in stap 7 gemaak het; gooi net op een plek (die diepste deel) en laat die rubber self sy lê kry. Laat staan vir 24 uur tot droog. Kap die planke liggies met die hamer om dit los te maak van jou rubber-gietvorm. Lig die vorm van die kleivorm af. Wenk As jy nie genoeg poliuretaanrubber het om die hele leë ruimte in jou boks te vul nie, kan jy die hoeke gedeeltelik met klei opvul.

10 Berei jou vorm voor met ’n losmaakmiddel (soos Aquacon). Spuit aan en verf dit oraloor met ’n skoon kwas. Laat die middel droog word.

11 Meng die sement (1 deel sement tot 3 dele sand en 1 deel water). Giet die sement in die vorm. Skud liggies om ontslae te raak van enige lugborrels. Laat dit oornag staan om droog te word.

12 Haal jou eerste plaveisteen uit. Herhaal stap 11 en 12 totdat jy genoeg stene het.

VERSKAFFER
AMT Composites 021 511 2669, amtcomposites.co.za

Chemikalieë vir poliuretaanrubber-gietvorm van AMT Composites