Ons almal word een of ander tyd gekonfronteer met ’n aaklige swartgemufte streep om die badkamerwasbak of bad se rand – dis iets wat jy maklik self kan regstel. Vetterigheid versamel gou hier en skep ’n erg onhigiëniese situasie. Keer dit deur die gapings met nuwe silikoon te seël.

Wat jy nodig het

  • maskeerband
  • ou kwas
  • skerp snymes
  • kalfaatpistool
  • buisie waterbestande
  • silikoon (in verskeie kleure beskikbaar)

So maak jy:

1. Sny die ou silikoon los met ’n skerp snymes. Sny aan weerskante – teen die teëls én teen die wasbak. Wees versigtig om nie te diep te sny nie, anders gaan jy die wasbak krap. Trek soveel as moontlik van die ou silikoon af. Maak die groefie tussen die wasbakrand en die teëls goed skoon sodat die nuwe silikoon genoeg hegplek het. Vee al die los stukkies af met ’n verfkwas of blaas die groefie skoon met ’n haardroër. ’n Silikoonverwyderaar soos Bostik Silicone Stripper sal die taak vergemaklik.

2. Plak maskeerband in ’n reguit lyn op die teëls en op die wasbakrand. Sny die spuit van die silikoonbuisie teen ’n 45°-hoek, sodat die gaatjie omtrent potlooddikte is. Spuit die silikoon met jou kalfaatpistool eweredig tussen die stroke maskeerband – pas deurgaans dieselfde druk toe sodat jy ’n silikoonlyn van eenvormige dikte kry.

3. Trek jou wysvinger oor die silikoon om dit glad te maak. Die geheim is om nie te talm nie, aangesien die vulstof binne oomblikke ’n harde lagie bo-op vorm. Wenk Smeer ’n drupel gewone skottelgoedseep aan die punt van jou vinger voor jy oor die silikoon vee – dit sal help dat jou vinger maklik oor die taaierige vulstof gly.

4. Trek die maskeerband so gou as moontlik af. Trek dit teen 45 grade weg van die nuwe silikoonlyn af vir ’n netjiese seëllyn.

WENK As jy ’n badrand herseël, vul die bad met water – die gewig van die water sal die gleuf tussen die teëls en badrand so wyd as moontlik ooptrek.