So vervang jy voegbry tussen teëls

akkreditasie
Stukkende of vuil voegbry kan maklik herstel word, óf jy kan sommer die hele spul verwyder.

Jou kombuis of badkamer het die mooiste teëls, maar die toestand van die voegbry (“grout”) tussenin laat alles sommer gehawend lyk. So maak jy ...

Wat jy nodig het

Inkopielys 

  • voegbry (by ysterwarewinkels te koop in 1 kg- of 5 kg-pakke)
  • waterdigtingvloeistof (“waterproofing agent”, in 1 liter-bottels beskikbaar)
  • teëlreiniger – ons het Tylon s’n gebruik 

Gereedskap

  • emmer
  • water
  • spons
  • deegskraper van plastiek (of gebruik ’n gewone skraper)
  • borseltjie
  • els of bryvullingverwyderaar 

So maak jy 

1. Gebruik ’n els of ’n gekoopte bryvullingverwyderaar om al die los en stukkende bryvulling tussen die teëls uit te krap. Hou die els stewig vas sodat jy nie per ongeluk gly en die teëls krap nie. Maak ook seker die gereedskap wat jy gebruik (soos die els), is nie breër as die gaping tussen die teëls nie, want dan loop jy gevaar om jou teëls te laat splinter. Bryvulling lê gewoonlik so diep soos die teël dik is. As jy net die los bryvulling met die bestaande kleur gaan vervang, is dit nie nodig om alles uit te krap nie, maar as jy al die bryvulling met ’n nuwe kleur wil vervang, gaan jy alles versigtig moet verwyder. 

2. Borsel die skoongemaakte groefies skoon. Meng die nuwe bryvulling in ’n bakkie of emmertjie met water tot ’n stywe pap. Gooi eers die poeier in die bakkie en voeg stadig water by terwyl jy meng. Gebruik ’n houtlepel om alle klonte mee uit te vryf. Dit is gewoonlik moeilik om te skat presies hoeveel bryvulling jy op een slag moet meng, maar maak eerder ’n bietjie minder as wat jy dink nodig is. Dis ieder geval so ’n maklike proses om dit te meng dat jy sommer kort-kort nog kan aanmaak. As jy bryvulling vervang waar daar water is – soos jou stortvloer of kombuiswerkoppervlak – moet jy verkieslik waterdigtingsvloeistof by die mengsel voeg. 

3. Sodra jou mengsel die regte konsistensie het, kan jy ’n deegskraper gebruik om die bryvulling in die gleufies te smeer. Druk die bryvulling ferm in al die verbindingsgleufies deur die deegskraper heen en weer oor die teëls te trek. 

4. Gebruik ’n klam spons om enige bryvulling van die teëls af te was. Spoel die spons gereeld uit om dit skoon te hou. Gebruik ’n emmer water wat jy later in jou buitedrein kan uitgooi, want bryvulling verstop ’n wasbak in ’n oogwink. Wag ’n paar uur totdat die bryvulling heeltemal droog is. ’n Dun lagie poeier sal op die teëls vorm. Meng nou water en Tylon-teëlreiniger volgens die aanwysings op die houer en gebruik ’n skoon spons om die poeier af te vee. Poets die teëls met ’n ou droë handdoek om die teëls ’n splinternuwe blink voorkoms te gee. 

Wenke 

  • Indien die teëls in die kombuis baie vetterig is, moet jy dit eers met ’n mengsel van warm water en suikerseep skoon was voor jy die nuwe bryvulling aanwend.
  • Gebruik gekleurde bryvulling om definisie tussen byvoorbeeld wit teëls te skep.
  • Werk met rubber- of mediese handskoene, want bryvulling kan jou vel erg laat uitdroog.
  • Jy kan ook ’n klein skroewe-draaier of spyker gebruik om die bryvulling mee uit te krap. 
Jongste uitgawe

Sep | Okt 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees