Muurpapier is die ideale manier om ’n kamer dramaties om te tower. Gebruik ’n opsigtelike patroon op ’n fokusmuur of ’n subtiele agtergrondtekstuur om ’n skildery aan te vul – daar is ’n ongelooflike verskeidenheid ontwerpe verkrygbaar, gans te veel om van te kies. Jy kan dit selfs ’n eie unieke stempel gee deur ’n muurpapierpaneel van ’n gunstelingfoto te laat maak.010416hmm064-1

Die plak van muurpapier lyk na ’n gedugte taak, maar dit is nie so moeilik nie – solank die muur glad en sonder stof of afskilferende verf is. Berei die muur voor deur dit met suikerseep te was; wag tot dit droog is voor jy begin plak.

Jy benodig:

  • muurpapier
  • maatband, rei, waterpas en potlood
  • muurpapierkleefstof en breë muurpapierkwas
  • spons en nutsmes
  • groot werkvlak (bv. ’n bokkietafel)

Nuttige wenk Kies papier van goeie gehalte. Dun muurpapier is geneig om te skeur wanneer jy kleefstof aanwend en dit kan ’n duur proses raak.

So maak jy:

STAP 1

Meet eerstens die muur noukeurig op drie plekke en gebruik die hoogste meting as hoogtegids. Om te bepaal hoeveel valle nodig is, meet die breedte van die muur en deel dit deur die breedte van die papier. Rond altyd op – as jy dus 5,6 valle nodig het, moet jy 6 valle sny. Voor jy die papier sny, tel 10 cm ekstra by, asook die lengte van die patroonherhaling (indien enige) by die hoogte wat reg aan die begin gemeet is. (Die patroonherhaling word op die muurpapieretiket aangedui.) Sny dan die aantal valle wat jy nodig het, merk elkeen se bokant en nommer dit in die volgorde waarin jy dit sny.muurpapier-1

STAP 2

Neem die papier se breedte en meet hierdie afstand van die rand of hoek van die muur af. Gebruik ’n rei en waterpas en trek ’n streep van die dak na die vloer as gids om die papier reguit te plak. As die muur nie heeltemal haaks is nie, maak seker dat die afstand van die rand na die streep kleiner as die breedte van die papier is. (Jy kan die papier altyd kleiner sny as dit te breed is, maar dis moeilik om papier by te voeg as dit te smal is.)

muurpapier-2

STAP 3

Maak die muurpapierkleefstof aan volgens die vervaardiger se aanwysings. Gebruik ’n mengstok om van klonterigheid ontslae te raak.

muurpapier-3

STAP 4

Lê die papier agterkant na bo op ’n skoon werkvlak, met die grootste deel van die papier aan jou linkerkant as jy regshandig is, of omgekeerd. Werk stelselmatig van die een kant na die ander deur die kleefstof met ’n breë kwas in ’n strook in die middel aan te wend en na die kante te versprei. Wend die kleefstof tot op die kante aan.muurpapier-4

STAP 5

Vou die strook muurpapier van links af tot in die middel en dan van regs af tot in die middel.muurpapier-5

STAP 6

Vou dan albei gevoude helftes weer tot in die middel.muurpapier-6

STAP 7

Vou die een helfte oor die ander een en plaas ’n paar minute lank op ’n skoon, droë werkvlak. Dit sal voorkom dat blase vorm. Jy kan kleefstof aan nog twee valle aanwend terwyl die eerste lê en week.

muurpapier-7

STAP 8

Wanneer die papier ’n paar minute lank gelê en week het, moet jy net die laaste vou oopvou en die gevoude papier soos op die foto optel. Maak seker dat jy die val se bokant styf vashou, want die kleefstof maak dit baie glad. Laat net die onderste gedeelte na die vloer toe val wanneer jy reg is om dit te plak.muurpapier-8

STAP 9

Bring die papier in lyn met die streep wat jy in Stap 2 getrek het en druk dit styf teen die muur vas. Laat ongeveer 50 mm bo, wat jy later kan afsny.

muurpapier-9

STAP 10

Gebruik die spons om die papier van die middel na die kante toe plat te stryk. As enige van die rande droog lyk, moet jy ’n bietjie kleefstof met ’n kwassie aanwend. Vee oortollige kleefstof met ’n klam lap af.

muurpapier-10

STAP 11

Gebruik die stomp kant van ’n nutsmes om die papier styf by die vloerlys en kroonlys in te druk, en sny dan die oortollige gedeelte af. Werk versigtig, want muurpapier kan maklik skeur wanneer dit klam is.

muurpapier-11

STAP 12

Gaan al die rande weer na en wend nog kleefstof aan waar nodig. Vee skoon met ’n klam lap.

muurpapier-12

STAP 13

Herhaal vanaf Stap 9 vir elke daaropvolgende val en gebruik die reeds geplakte stuk nou as gids (nie meer die streep nie). Maak seker dat die patroon pas en dat die naat netjies is.

muurpapier-13

Blink idee! Die keuse van die regte muurpapier is beslis nie ’n maklike taak nie. Vra die verskaffer of jy ’n monsterboek kan leen. Dis baie beter om die muurpapier in die regte omgewing te sien

Tuis-WEN-Skep-'n-tuiste-boek

(Uittreksel uit boek, Skep ’n tuiste, deur Germarie Bruwer en Margaux Tait)