Wat die hart van vol is

Laat druk jou gunsteling-Instagram-foto’s van vriende en familie as Polaroid-foto’s en plak dit teen jou muur. Verskeie maatskappye soos nifty250 verskaf dié diens.

Vir ’n duursamer oplossing, laat druk kosbare oomblikke op houtblokkies om ’n herinneringsmuur teen jou eetkamermuur te bou. As jy dol is oor dié vertrek, maak seker jy sien hoe die res van die huis lyk in die Mei-uitgawe van Tuis.

Sit-sit-so

Tuis- Foto idees vir Moedersdag 2

Probeer dié nuwe weergawe van vintage! Diep al jou ou swart-en-wit familiefoto’s op en laat dit op doek druk; gebruik dan die lap om die rugleunings – of selfs die sitplekke – van jou eetkamerstoele oor te trek. Kies ’n ander foto vir elke stoel vir ’n indrukwekkende effek. Of laat gebruik die doek om unieke kussingslope te maak.

Met liefde

Tuis-Foto-idees-vir-Moedersdag-3

Hier’s ’n blink plan: Skep ’n raam rondom ’n foto van jou geliefde met dié handgemaakte hartvormige “kameralens” van karton. Sit dit met ’n rekkie om jou kamera se lens en kiek na hartelus. Die papierlens sal jou foto met ’n hartvorm omraam.

So maak jy: Meet jou lens-deursnee en trek dit af op ’n stuk karton. Trek dan ’n groter sirkel rondom dit en knip dit uit. Knip reguit lyne van die buitenste sirkel na die kleiner sirkel – dit sal help met die vouwerk om die lens. Knip laastens die hartvorm uit deur die karton dubbel te vou en net die een helfte van die hart uit te knip; wanneer jy dit oopvou sal dit ’n volledige hart wees. Bind die karton met ’n rekkie om die lens vas.

Prentjiemooi

Tuis- Foto idees vir Moedersdag 4

’n Foto wat op ryspapier gedruk is, is die maklikste manier om ’n koek vir ’n spesiale geleentheid op te dollie. Rond dit af met gekoopte versiersuikerblomme of -letters. Jy kan afdrukke op ryspapier laat maak by spesialis-bakwinkels; vra ook by die bakafdeling van jou plaaslike supermark – party verskaf dié diens.

Nog ’n oulike idee: Maak ’n ekstra-spesiale bedkassie met ’n découpage-foto. Ons wys jou stap vir stap hoe om dit te doen in Verf dit 2018.

Foto's Francois Oberholster