Projekgids
  • Harde werk 3/10
  • Vaardigheidsvlak 3/10
  • Tyd nodig Omtrent ’n uur
  • Klaar grootte Sowat 250 (h) x 122 (b) x 122 mm (d)

Projeknotas

  • Ons het afval-dennehout (122 x 22 mm en 44 x 22 mm) en -meranti (44 x 22 mm) uit vorige projekte gebruik.
  • Ons het ons huisies met ProNature-vernis, ’n ekovriendelike seëlaar, afgerond;  jy kan die hout ook natuurlik laat verouder.
  • Gebruik die sketse hierby net as riglyne. Pas die afmetings aan, meng die ontwerpe of put inspirasie uit ons s’n en skep jou eie.

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 2 400 x 122 x 22 mm-dennehout
  • 1 800 x 44 x 22 mm-dennehout
  • 1 800 x 44 x 22 mm-meranti (of gebruik enige planke wat jy het)
  • 25 mm-harkstele
  • 8 mm-tappen
  • houtlym en -vuller (opsioneel)
  • 44 mm-spaanderbordskroewe
  • vernis
  • kwas

Gereedskap

  • boor en 8 mm-boorpunt
  • 60 mm-gatsaag
  • ystersaaglem
  • potlood
  • tekendriehoek
  • maatband
  • klampe
Ashley sê: Laat die kleinspan gerus help; agterna sal hulle dit geniet om die voëls se interaksie met hul handewerk dop te hou.

So maak jy

Die volgende stappe word in al drie ontwerpe gevolg en is net riglyne. Kombineer dit na hartelus vir jou unieke skepping(s ).

1. Boor altyd gidsgate voordat jy houtdele aanmekaar skroef, anders kan die hout splyt. Versterk die lasse vooraf met ’n druppel lym en gebruik hoekklampe om te verseker die lasse is haaks.

2. Klamp die hout stewig vas wanneer jy met ’n gatsaag werk; hou die boor stewig vas en pas deurgaans dieselfde druk toe. Ons het die dele vir die voorkant van een huisie aanmekaar gelym en laat droog word voor ons ’n “voordeur” daarin gesaag het.

Wenk Plaas ’n afvalstuk hout onder jou werkstuk om te keer dat die hout splyt. Saag ’n netjiese gat deur eers van die een kant af te saag, die werkstuk om te draai en dan, met die gidspunt in posisie, weer van die ander kant af te saag.

3. Die verskillende houtkleure kan interessante patrone vorm.

4. Boor ’n 8 mm-gaatjie in die voorkant, net onder die opening; tik ’n stuk tappen van sowat 100 mm in die gaatjie – dis Jan Pierewiet se sitplek.

5. Sodra die dak en rugkant in plek is, kan jy gleuwe en merke met houtvuller toemaak; druk tappenne in die skroefgate en saag dit teen die oppervlak af met ’n ystersaaglem. Wend vernis aan of laat die hout natuurlik verweer.