Probleem Dit lyk of die muur in my stort lek. Kan ek waterskade, stygende klammigheid of vogtigheid weens pype wat in die mure lek self herstel, of is dit iets waarna die kenners moet kyk?

Oplossing Natuurlik kan jy sommige probleme self oplos. Kom ons kyk wat jy self kan doen en waarvoor jy liewer jou sak moet skud.

’n Stort wat lek beteken dat water ’n weg deur die voegbry gevind het. Dit kan veroorsaak word deur ’n stortuitlaat wat nie dig is nie of ’n kraak of lekplek in die pype. As jy enige van dié probleme vermoed, moet jy ’n professionele loodgieter uitroep. Nadat die loodgietwerk herstel is en die teëls en/of voegbry teruggeplaas is, kan jy die droogwordproses aanhelp deur ’n waaier in die badkamer aan te sit of die vensters wawyd oop te maak – wees maar geduldig, want dit kan weke neem voor alles heeltemal droog is. Jy sal oplet dat die sement weer liggrys verkleur. Toets of die muur droog is deur ’n stuk plastiek oornag oor die aangetaste deel te plak. As daar die volgende oggend druppels op die plastiek is, sal jy nog ’n rukkie moet wag voor jy enige areas waar vogtigheid probleme veroorsaak het, kan aanpak. Dis belangrik dat jy ’n waterdigte sperlaag op die mure aanwend voor jy weer teël. Jy kan ook ’n waterdigte bindingsmiddel by die teëlsement en by die voegbry inmeng.

Stap 1 Gebruik ’n skraper en verwyder alle verf wat afskilfer of afdop.

Stap 2 Borsel die hele area met ’n draadborsel om van enige poeierige verf- en pleisterreste ontslae te raak.

Stap 3 Kap krake wyer oop. Gebruik ’n skraper om dit met ’n klaar gemengde kraakvuller soos Mendal 90 of Alcolin Litefill op te vul – dié vullers is minder geneig om te krimp.

Stap 4 Skuur die opgevulde dele glad, stof goed af en wend minstens twee lae vogseëlaar soos Plascon Dampseal aan voor jy die oorspronklike kleur oorverf.