Maak hierdie nuttige wasgoedsak wat jy sommer teen die muur (of agter ’n deur) kan vasmaak – vinnig en maklik!

Deur Shelly Bergh

Video Francois Oberholster

Wat jy nodig het

  • polipropileen-sak (beskikbaar by Builders)
  • aluminiumstaaf
  • touweefsel
  • D-ringe
  • naaimasjien
  • liniaal
  • potlood
  • ystersaag
  • skroefhake

So maak jy ...

https://youtu.be/9BuaRxf76Gc

Stap 1: Meet en merk 100 mm onder die sak se opening. Werk ’n strook velcro op hierdie rand vas, en die ander deel op die sak se borand.

Stap 2: Sny twee stukke touweefsel min of meer 150 mm lank. Vou dit om die D-ringe en stik dit tussen die twee velcro-stroke vas, sowat 100 mm van buite af. Die onderkant van die touweefsel kan aan die onderste stook Velcro raak, maar moenie oor die middellyn tussen die stroke gaan nie.

Stap 3: Saag die aluminiumstaaf dubbel die breedte van die sak – ons sak was 570 mm breed, dus het ons die staaf 1 140 mm lank gesaag. Buig dit nou op die volgende mates, 200 mm, 340 mm, 400 mm, 340 mm en 200 mm om ’n reghoek te vorm. Die twee 200 mm-sye kom in die middel bymekaar om die tweede 400 mm-sy te vorm. Pas aan indien jou sak se mates verskil.

Stap 4: Vou die sak om die aluminiumstaaf en plak die velcro vas.

Stap 5: Hang die sak agter ’n deur met die skroefhake.