Met dié maklike, smaaklike resepte kan jy vinnig aandete aanmekaarslaan! Balsemiek-glaseersel STROPERIGE BALSEMIEK-GLASEERSEL OOR KOESKOESSLAAI

Maak sowat 125 ml

• 250 ml balsemiekasyn

• 125 ml Huletts Treacle Sugar

• 10 ml Huletts Molasses

• 2 takkies tiemie

• ’n ruim strooisel seesoutvlokkies

Meng al die bestanddele, behalwe die sout, in ’n klein kastrol en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt en kook tot stroperig. Hou die mengsel fyn dop sodat dit nie oorkook nie. Roer tot die mengsel stroperig en glansend is, geur met die sout en laat afkoel.

OPDIENVOORSTEL Sprinkel die glaseersel oor oondgeroosterde botterskorsie, tamatie en feta en sit voor op ’n bed van koeskoes gemeng met gaar keker-ertjies. Strooi ’n lekker groot hand vol mikrokruie oor om af te rond.

Lemmetjie-en-koljander

LEMMETJIE-EN-KOLJANDERSOUS MET GARNAALNOEDELS

 Maak sowat 125 ml

• 60 ml Huletts Treacle Sugar

• sap van 2 lemmetjies

• 2 jalapeño-rissies, ontpit en fyngekap

• 60 ml sojasous

• 30 ml geroosterde-sesamolie

• 15 ml vissous

• 250 ml vars koljander, gekap

• 3 sprietuie, fyngekap

Meng die Huletts Treacle Sugar met die lemmetjiesap en mikrogolf ’n paar sekondes om die suiker op te los. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed.

OPDIENVOORSTEL Marineer 1 kg steurgarnale (oopgevlek en met die dermpie verwyder) vir 15 minute in die helfte van die sous. Rooster, panbraai of braai die garnale tot pienk en geurig. Sit voor op ’n bed van noedels en jou gunsteling-roerbraaigroente. Sprinkel die res van die sous oor vir ’n geurige feesmaal.

Braaisous

BRAAISOUS

Maak sowat 250 ml

• 15 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap

• 1 rooi brandrissie, ontpit en gekap

• 1–2 knoffelhuisies, fyngekap

• 15 ml mosterdsaad

• 1 lourierblaar

• 160 ml Huletts Treacle Sugar

• 15 ml Huletts Molasses

• 125 ml kookwater

• 60 ml appelsiderasyn

• 60 ml tamatiesous

• sout en varsgemaalde peper na smaak

Verhit die olie in ’n klein potjie en braai die ui, rissie, knoffel en mosterdsaad saam tot die ui sag is. Meng die res van die bestanddele by en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Laat die mengsel kook tot dik en glansend, en laat dit dan afkoel.

STEEK ’N VUURTJIE AAN! Dié heerlike sous is perfek as ’n taai braaisous op sosaties met hoenderblokkies in spek toegedraai; jy kan dit ook gebruik om pangebraaide worsies of oondgeroosterde groentesosaties op te kikker. Njam!

Blink plan! Bind ’n paar takkies origanum, tiemie of roosmaryn saam en gebruik dit as “kwassie” om die sous aan te smeer.

KOS-footers-2