Spaghetti met knoffel en rissie

Gebruik volgraanspaghetti vir ekstra vesel.

Genoeg vir 4 ruim porsies

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 8 minute

  • 500 g spaghetti
  • 125 ml ekstrasuiwer olyfolie
  • 1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • ’n klein bossie platblaarpietersielie, gekap
  • ’n knippie gedroogde rissie

1 Kook die pasta in soutwater tot al dente. Verhit intussen ’n pan oor matige hitte tot warm. Giet die olie in die pan en braai die brandrissie en knoffel versigtig tot geurig. Roer die pietersielie en gedroogde rissie by en verwyder van die hitte.

2 Skep die gaar pasta nat-nat by die olie en skud om seker te maak die geurige olie bedek elke lint. Geur met sout en lekker baie varsgemaalde swartpeper. So maklik soos dit! As jy luuks voel, kan jy ’n strooisel harde Italiaanse kaas soos parmesaan of pecorino byvoeg.

Rek jou rande Vars of droë broodkrummels gebraai in die olie gee ook heerlik tekstuur as jy nie harde kaas in die huis het nie.

Fusilli puttanesca

Dié pastagereg is heerlik teen kamertemperatuur of koud as verfrissende slaai. As jy ’n meer tradisionele pasta wil hê, braai die sousbestanddele saam en sit warm voor.

Genoeg vir 4 ruim porsies

Bereidingstyd: 15 minute

Gaarmaaktyd: 8 minute

  • 500 g fusilli
  • 300 g gemengde tamaties
  • 12 swart olywe, ontpit en gekap
  • 6 ansjovissies, gekap
  • sowat 30 ml kappertjiesaad
  • ’n paar takkies jong origanumblaartjies
  • 2 ml gerasperde vars knoffel
  • sowat 80 ml goeie olyfolie
  • 15 ml rooiwynasyn

1 Kook die pasta in soutwater tot al dente. Halveer, kap en sny intussen die tamaties na jou smaak in ’n groot mengbak en geur

mildelik met sout en peper. Meng die res van die bestanddele by.

2 Dreineer dadelik die gaar pasta en meng dit warm deur die sousmengsel. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Wenk Dié mooi slaai is ook ’n heerlike bygereg saam met geroosterde hoender.

Gnocchi met patat en salie

Gesmelte botter met ’n takkie of twee geharde kruie daarin gebraai vir geur is ’n klassieke pastasous. Dit pas uitstekend by gevulde pasta soos ravioli. Ons gebruik patat vir ’n korter gaarmaaktyd, maar botterskorsie- of pampoenblokkies is ook heerlik.

Genoeg vir 2 ruim porsies

Bereidingstyd: 25 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

  • 500 g gnocchi
  • 1 groot oranje patat, geskil
  • 100 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 6 salieblare
  • ’n strooisel dennepitte
  • parmesaanskaafsels, opsioneel

1 Sny die patat in 1 cm-blokkies en braai in die helfte van die botter en die olyfolie tot goudbruin en gaar. Laat stoom dan vir ’n paar minute met die deksel op indien nodig om te verseker die groente is gaar (of stoom vooraf tot halfgaar).

2 Voeg die res van die botter en die salie by die pan en braai totdat die botter die blare begin verkleur. Verwyder van die hitte.

3 Terwyl die groente stoom, bring ’n pot soutwater tot kookpunt en kook die gnocchi totdat hulle begin dryf (dan is hulle gaar). Skep die gaar gnocchi met ’n gaatjieslepel uit in die pan met die patat en botter, en roer tot bedek. Verhit vir ’n paar minute en sit voor met die dennepitte en kaas, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Nog ’n vinnige sous vir gnocchi
Braai 200 g spekblokkies in 15 ml olyfolie tot bros. Roer dan ’n hand vol kersietamaties by en braai tot hulle begin bars. Rond af met ’n skeut balsemiekasyn en sit voor met ’n strooisel parmesaanskaafsels en vars basilieblaartjies deur die gaar gnocchi geroer.

Linguine met groen groente en pesto

Klassieke basiliepesto-en-pasta is in sy eenvoud die perfekte vennootskap, maar jy kan dit ook opdollie as jy wil met groente, neute en kaas.

Genoeg vir 4 ruim porsies

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 8 minute

  • 500 g linguine of ander lang pasta
  • 30 ml ekstrasuiwer olyfolie
  • 350 g gemengde langsteelbroccoli,peulertjies en murgpampoentjies, gekap
  • 80 ml klassieke basiliepesto
  • 30 ml dennepitte of gekapte amandels
  • vars basilie en ’n strooisel parmesaankaas (opsioneel)

1 Kook die pasta in soutwater tot al dente. Verhit intussen die olie en braai die groente totdat dit begin kleur kry, maar steeds tekstuur het. Geur met sout en peper en roer die pesto en neute by; verwyder van die hitte.

2 Skep die gaar pasta so nat-nat by die pesto en meng goed deur. Sit dadelik voor, met of sonder die ekstra kruie en kaas en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Wenk Eksperimenteer gerus met roket-en-okkerneutpesto of Griekse pesto met olywe en feta.