1 Speel met vuur 

Beer Country’s Beer Food Fire (R290; Penguin Random House Suid-Afrika) deur die bierliefhebbers en swaers Karl Tessendorf en Greg Gilowey is ’n goeie toevoeging tot jou resepteboekversameling. Hulle verken Suid-Afrika se boetiekbier-kultuur, ontmoet die passievolle siele agter ’n paar van hul gunsteling-biere en braai liplekker resepte wat óf goed paar met bier óf bier as ’n bestanddeel het.

Verken al die nuwe maniere hoe jy die goue drankie, asook al sy verskeie bestanddele, in jou kos kan inspan – maklik en gesellig met ’n koue een in die hand! En daar’s iets vir almal, van eenvoudige bierbotter vir steak tot ’n formidabele lam-en-spekburger met ’n bloukaas-vulsel! 

2 SPREI JOU VLERKE

Dié droograk (R299,99, mrphome.com) vou op vir maklik bêre.

3 PIENK PLESIER

Die Darling Cellars Pyjama Bush 2018 (R50; darlingcellars.co.za), ’n versnit van sauvignon blanc en grenache, is genoem na die inheemse luibos (Lobostemon fruticosus) met sy pienk-en-blou blomme (“pyjama bush” op Engels). In die lente en somer blom dié bossie in die Darling-omgewing en ander dele van die Wes-Kaap. Dié smul-lekker wyn met sy parmantige vars en effens droë geur komplementeer die sonnige seisoene perfek.

4 Weer en weer ...

Herbruikbare Stasher-toebroodjie-sakkies is gemaak van suiwer platinumbehandelde kosgraad-silikoon (R189; home.co.za). Die sakkies seël vanself en is lugdig, dis ook maklik om skoon te maak en gaan veilig van die vrieskas na die mikrogolfoond en in die skottelgoed-wasser.

1 BEDERF JOUSELF! 

Die beperkteoplaag-KitchenAid Artisan 4.8L Stand Mixer in droommooi Misty Blue (R14 989; eksklusief beskikbaar by yuppiechef.com) vier die handelsmerk se 100ste bestaansjaar. Met dié gebruikersvriendelike menger kan jy beslag meng, deeg knie en indrukwekkende skeppings optower soos ’n wafferse sjef! 

2 TONNE GEUR

Die nuwe Funky Ouma Braai Salt-blikkies (R80; funky-ouma.co.za) kombineer vars koljander, rooi en groen soetrissie, komyn, knoffel, ui, brandrissie en paprika met swartpeper, seesout en Himalaja-sout as ’n fantastiese geurinspuiting vir jou gunsteling-braaivleis. Kyk ook uit vir hul heerlike braaisous (R80) met vyepulp en balsemiekasyn, en Black Garlic Salt (R40) gemaak van gefermenteerde swart knoffel. Steek ’n vuurtjie aan saam met Ouma! 

1 WILDEWRAGTIG

Survivor, die wynreeks wat genoem is na ’n inheemse ngunibees, het ’n geurige Wild Yeast Syrah 2017 (R185; overhexsurvivor.com) bekendgestel. Dit spog met braambessie- en speserygeure wat goed werk saam met varkroerbraai, lamsboud en ribbetjies oor die kole. 

2 ’n Wenkombinasie 

Kyk net dié spoggerige bottel! Die Disaronno Icon-projek, waarin die bekende likeur jaarliks kragte saamsnoer met ’n bekende Italiaanse modehuis, is vanjaar ses jaar oud. En dié keer is die bottel “aangetrek” deur Trussardi. Dis versier met kwashale in fuchsia, groen en blou, maar die likeur is steeds goudkleurig met sy bekende amaretto-smaak. Besoek disaronno.com.

3 Lekker vir inpak! 

Met dié stylvolle hasie-sak (R99,99; woolworths.co.za) sal die kleinspan die Paaseiersoektog beslis geniet.  

4 KOSDROME KRY VLERKE

Die blogger, stilis, markorganiseerder, modeghoeroe en kosliefhebber Isabella Niehaus se hande staan vir niks verkeerd nie, en haar kreatiwiteit is alombekend. Haar nuwe boek, Duinhuis (R400, Human & Rousseau), is ’n viering van haar gewilde langtafelkuiers op die stoep van haar grys sementhuis met sy asemrowende see-uitsig, en op die koop toe natuurlik al die resepte van die smulkos wat sy voorsit vir die mense vir wie sy lief is. 

5 OP DIE BEEN

Dr Broth is ’n Durbanse produsent van gourmet-kragsop wat in klein hoeveelhede op ’n slag gemaak word. Dis die breinkind van Gina en Graham Neilson van 9th Avenue Bistro; hulle kombineer organiese, hormoon­vrye vleisbene met vars plaaslike produkte vir ’n heerlike, gesonde kits-ete. Met sy anti-inflammatoriese eienskappe en anti­oksidante sal dit jou immuunstelsel ’n hupstoot gee, help met gewigsverlies en inflammasie verminder. Kry dit by uitgesoekte Spar-takke en gesondheidswinkels landwyd. Besoek drbroth.co.za