Tjorts

Lus vir ’n bietjie Paaspret? Kies koers na die SAB World of Beer in Newtown, Johannesburg vir hul jaarlikse Easter Beer Hunt op Sondag 1 April van 10:00 tot 16:00. Nie net kan jy ’n daaglikse biertoer meemaak nie, maar as jy fyn kyk, sien jy dalk SAB-handelsmerke langs die pad – waarmee jy fantastiese pryse kan losslaan!

Toegang kos R125 per persoon, wat twee biere, ’n gedenkglas en ’n begeleide toer insluit. Skakel SAB World of Beer by 011 836 4900 of besoek worldofbeer.co.za.

Als in een

Die Instant Pot (R1 999, yuppiechef.com) is sewe kombuistoestelle in een: dis ’n elektriese drukkoker, prutpot, ryskoker, stoompot, soteerpan, kosverwarmer én jogurtmaker. Die geheim lê in die gevorderde mikroverwerker-tegnologie en eenknoppiebeheer wat elke keer perfekte resultate lewer – en boonop onthou hoe jy kook! Besoek yuppiechef.com vir nog inligting.

So vars

Vrede en Lust Anni Sauvignon Blanc 2017 (R90, cybercellar.com) word gemaak van druiwe wat op die plaas Casey’s Ridge naby Elgin groei. Tipies van ’n koelklimaat-wyn het dit ’n effense vuursteen geur, asook aromas van gras, grenadellas en appelliefies. Geniet dit saam met soesji, skulpvis en Thaise roerbraai.

IETS VIR ELKEEN

Marcel se nuwe geure – grondboontjiebotter, spookasem en lemmetjie (R20,50 vir 175 ml) – sal beslis die smaakkliere kielie! Besoek marcels.co.za.

Haasbek-happie

Almal se gunsteling-Lindthasie spog nou met ’n nuwe baadjie. Die 200 g-Lindt Gold Bunny Flower (R89,95 by uitgesoekte winkels landwyd) is die perfekte Paasfees-lekkerny!

Daar’s drie nuwe maaltye in Checkers se OH MY GOODNESS!-reeks vir kinders – alles gemaak van plaaslik verkrygde groente en beesen hoendervleis van die plaas af, sonder MNG, bygevoegde sout of suiker. Njam!

Sak en pak

Fairview se Goats Do Roam Handbag Red Blend (R160 vir 3 liter, fairview.co.za) het geure van donker kersies, pruime en speserye op die neus en ’n talmende nasmaak. Ons is dol oor die nuwe drasak – dis stewig, prettig en gerieflik!

Uit die blik

Gedink Lucky Star-sardyne is die lekkerste op roosterbrood? Probeer dan die bekostigbare, smullekker resepte in Seven Colours with Fish (R85,50, tamsinsnyman.com). Dis geskep deur hul handelsmerkambassadeur en sjef Kabelo Segone en die koskonsultant Tamsin Snyman. Blikkiesvis op sy beste!

Aan die kook

Die Le Creuset-fluitketel (sowat R1 700, le creuset.co.za) is ’n ou gunsteling, en liefliker as ooit in die nuwe kleur Deep Teal. Maak dadelik ’n koppie tee!

Smaaklike ete

In Maalvleis (R260, Human & Rousseau) word die afskeepkind van die vleisfamilie omgetower in iets besonders met meer as 100 liplekker resepte. Soos in haar eerste boek, Toor met hoender (R250, Human & Rousseau), nooi Karen Hart, die kosredakteur van Tuis se susterstydskrif Kuier, jou na haar toorkombuis met staatmakerresepte wat jou mond sal laat water en jou tafelgenote sal bekoor.

SKINK ’N GLASIE

Die verfrissende Greenleaf + Terroir is ’n klaar gemengde jenewer en tonikum met ’n besonderse geur – die jenewer is gedistilleer uit pinotage-druiwe uit die Durbanville-omgewing, jenewerbessies, handgeskilde lemoene en lemmetjies, asook koljander en vinkel. Ook die tonikum word plaaslik gemaak van natuurlike bestanddele. Koop enkelbottels of vierpakke by goeie drankwinkels landwyd, asook aanlyn by yuppiechef.com. Besoek greenleaf-terroir.co.za.