1. die volgende generasie

Met inspirasie uit Soweto, Mama D en haar ouma se kos, het Nthabiseng Ramaboa,ook bekend as Sjef Nti, besef sy moet ou bekende geure op ’n vars manier inspan om die jonger generasie se aandag te trek. Haar eerste kookboek, My Modern African Kitchen (R350, Quivertree), fokus juis op dié nuwe aanslag en vier die kosse wat trots Suid-Afrikaans is. Dit bevat ’n verskeidenheid resepte, van maklike kortpaaie tot gunstelinge geïnspireer deur haar grootwordjare in Soweto, en selfs ’n hoofstuk met bydraes deur vriende.

2. Vier iets spesiaals

Die Lourensford-landgoed in Somerset-Wes het pas sy Limited Release Cuveé 108 bekendgestel. Dit word gemaak van druiwe wat meer as ’n dekade gelede geoes is en daarna vir 108 maande op die moer gelê het. Net 419 bottels van dié komplekse dog elegante vonkelwyn is ná die eerste ontgisting uitgereik. 

Koop dit by die Lourensford-proelokaal (Maandag tot Sondag, 09:00–17:00) teen R660. Besoek lourensford.co.za.

3. vir die perfekte koppie boeretroos

Legado Coffee Roasters het begin op die plaas Rosenview net buite Stellenbosch, maar deesdae kan jy self die volronde geur van hul koffie kom proe by hul vlagskipwinkel by Andringastraat 19, Stellenbosch. Die koffiewinkel is Maandag tot Vrydag oop van 07:00 tot 17:00 en Saterdae van 08:00 tot 14:00. Bederf gerus die koffieliefhebber in jou lewe met ’n pak van hul bone – bestel aanlyn by legadocoffee.com

1. Tyd vir tee

Bederf jouself met dié pragtige teepot van emaljebedekte gietyster (R699, poetrystores.co.za).

2. Aan die roer

Maak jou teepartytjie ’n okkasie met dié Luna Enamel Print-teelepels met mooi versierde emalje-hewwe (stel van vier; R280, poetrystores.co.za).

3. Altyd welkom

Die Ginger Bread Biscuit House-blik (220 g, R99,99) van Woolworths maak die oulikste Kersgeskenk! Besoek woolworths.co.za.

4. klein, maar getrein

Beperkte getalle van die Musgrave Minibar is by winkels landwyd te kry, en dit het tonne skop! Probeer die Original- en Pink-jenewer, en die nuwe Copper Vanilla- en Copper Black Honey-brandewyn – almal vir R250. Sien musgravespirits.com.

1. ’n intieme ervaring

Die Peech-boetiekhotel in Melrose, Johannesburg, het sy deure oopgemaak vir die stylvolle nuwe restaurant Basalt onder leiding van Frederico Dias, die voormalige hoofsjef by The Pot Luck Club in Kaapstad. Frederico het al in van die wêreld se voorste restaurante gewerk en hy wil dié inspirasie, asook sy Portugese erfenis en liefde vir Oosterse en Mexikaanse geure, in sy spyskaart oordra. Die restaurant is geleë in die oorspronklike erfenishuis wat uitkyk oor die hoofingang van die hotel en het ’n intieme atmosfeer, met sitplek vir net 40 mense. Dis van Dinsdag tot Saterdag oop vir aandete; skakel 011 537 9797 of besoek thepeech.co.za om te bespreek.

2. Van die stoof tot die oond 

Die Cocotte Every (R2 999, lecreuset.co.za) is ’n veelsydige toevoeging tot Le Creuset se gesogte reeks emaljebedekte

gietysterware. Die 18 cm-kasserol, wat geskik is vir alle kookvlakke én die oond, is kompak genoeg dat dit nie te veel plek in beslag neem nie, maar is lekker diep vir rys kook, potbrood bak of smullekker sop maak. 

3. Bekroonde borrels

Die Steenberg-wynlandgoed in Constantia het koning gekraai by die 2019 Amorim Cap Classique Challenge – hulle is aangewys as die vervaardiger van SA se beste MCC rosé met hul Steenberg 1682 Pinot Noir (R235, steenbergfarm.com). Dié lieflike droë vonkelwyn met sy bleekpienk kleur spog met liplekker geure van framboosjellie, wilde-aarbei-sorbet, rooi appelskil en geroosterde brioche. Die ultra-fyn mousse bring die framboosagtige aromas en romerige tekstuur in perfekte balans met ’n vars suurheid.