1. Onskuldige plesier! Hou jy van The Duchess Virgin Gin & Tonic? Probeer The Duchess Floral (R72 vir vier, theduchess.co.za). Dis suiker- en alkoholvry met die kenmerkende geure van jenewer en tonikum, asook blomekstrakte, sitrusbloeisels, sleutelblomme en inheemse heuningbos.
  2. Vir jou Valentyn Nougat met kasjoe- en pekanneute in sjokolade R19,99, woolworths.co.za
  1. LÊ WEG! Olami (R330; Jacana Media) deur Nirit Saban, die eienaar van die gelyknamige deli in Breestraat in Kaapstad, fokus op smaaklike, voedsame kos. Nirit se resepte is ’n speelse samesmelting van geure, van die Midde-Ooste tot Suid-Amerika. Die boek bevat resepte vir hoofgeregte, bykosse, gebak en pasteie. Njam!
  1. Die keramiekkunstenaar Ian Engelmohr van Patat Ontwerp beeld ikoniese plaaslike handelsmerke soos All Gold-tamatiesous en Lucky Star-sardyne op sy reeks Bloudruk-borde uit. Pryse begin by R350. E-pos patatengel@gmail.com om te bestel.
  2. KAAS (-KOEK) EN WYN Verlustig jou in ’n proe-ervaring met dekadente kaaskoek en wyn by die Eikendal-wynlandgoed in Stellenbosch (R80 per persoon). Die soutkaramelkaaskoek saam met die bekroonde Janina Unwooded Chardonnay is elke kalorie werd! Skakel 021 855 1422 om te bespreek. Besoek eikendal.com.
  3. ’n GESONDE ALTERNATIEF Buiten sy heerlike geur is Extra Virgin Cape Canola Cold Pressed Canola Oil vol vitamien E, antioksidante en Omega 3, 6 en 9 – en jy kan dit teen ’n hoë temperatuur gebruik sonder dat dit sy gesonde eienskappe prysgee. Dis beskikbaar by Food Lover’s Market en Pick n Pay in die Wes-Kaap en sal binnekort landwyd op die rakke wees; sien capecanola.com.
  4. GROTER KUIERPLEK The Kitchen in Sir Lowryweg, Woodstock, tuiste van Karen Dudley se bekende liefdesbroodjies, het uitgebrei! Jy kan nog dieselfde smulkos en speelse dekor verwag – daar is nou net meer plek vir gesellige kuiers! Sien lovethekitchen.co.za.
  1. ’N EERSTE VIR SUID-AFRIKA Lautus Savvy White (R59,95, drinklautus.com) is ons heel eerste alkoholvrye wyn; dit word op die tradisionele manier gemaak, maar net voor dit gebottel word, verwyder ’n tol-tegniek die alkohol sonder om die struktuur en geur van die wyn in te boet. Dit het tonne geur, maar min kilojoules (52 kJ/100 ml). Met sy heerlike tropiese en lemmetjie-geure is dit ’n wonderlike pasmaat vir slaaie en witvleisgeregte.
  2. KLINK ’N GLASIE Die L’Ormarins Brut Classique Rosé NV lewer verfrissende borrels en delikate bessiegeure. Dis beskikbaar by rupertwines.com teen R120 per bottel, of by uitgesoekte spesialiswynwinkels landwyd. Dié pienk plesier is net die ding vir ’n partytjie!
  3. ’N BIETJIE KULTUUR Morgenster Vespri Vermentino 2017 (R120 by die kelder) is ’n ligte witwyn wat van die Italiaanse druifkultivar vermentino gemaak word. Dis een van die wyne in Giulio Bertrand, Morgenster-eienaar, se Italian Collection, wat almal na bekende operas genoem is. Die Vespri is vir Verdi se I vespri siciliani en dis heerlik saam met seekos! Besoek morgenster.co.za.