Die perfekte koppie boeretroos

Ons kan nie genoeg kry van dié innoverende filters van Purist Coffee nie – hiermee kan jy ’n koppie filterkoffie sommerso in jou koffiebeker brou! Maak net die drupfilter-sakkie oop en skep een maatlepel (10 g) koffie in; trek die syflappies liggies oop en laat dit oor die beker se rand rus. Giet nou warm water stadig bo in die sakkie. Wag tot die water deurgeloop het, haal die filtersakkie af en siedaar! Die beginnerspak bestaan uit vier 50 g-sakkies koffiemoer, 20 drupfilters en ’n maatlepel (R215, puristcoffee.com).

Skink ’n glasie

Aperol word gemaak met treksels van bitter en soet lemoene, rabarber en verskeie kruie en wortels; wat wil jy meer hê in ’n aptytwekker? Maak vir jou ma ’n bekoorlike mengeldrankie deur 50 ml Aperol te meng met 50 ml Cinzano Pro-Spritz, ’n skeut soda en ’n lemoenskyf. Aperol kos sowat R229 en Cinzano Pro-Spritz R95 onderskeidelik (vir 750 ml); albei is te kry by voorste handelaars. Besoek aperol.com vir nog resepte.

Vir die lekkerbekke

Die nuwe kosmark by die Ballito-leefstylsentrum is net die plek vir ’n gesinsuitstappie. Maak jou reg vir lekkernye van bekende handelsmerke soos Science of Coffee Roasters, Taylor’s Meats, Scoop Ice Cream en Olive-A Twist, of loer in by die nuwe Eat Street, waar jy verskeie restaurante kan beproef. Besoek ballitolifestylecentre.co.za.

Italiaanse bekoring

Langs Muizenberg se kus, omring deur berge, herinner die statige Casa Labia aan Venesië in die 18de eeu – die perfekte agtergrond vir die eklektiese spyskaart van Cucina Labia, waar die sjef Monché Muller gaste bekoor met haar kookvernuf. Skakel 021 788 6062 om te bespreek, of e-pos cucinalabia@dishfood.co.za. Gebraaide ontbeende beesrib, beenmurg-jus, broccoli, gorgonzola-pomme puree, kersiehout-gerookte beestong en peer.

Van die oggend tot die aand

Aanhangers van die gewilde Knysna-restaurant île de païn weet die sjef Liezie Mulder ken haar slag in die kombuis. Nadat sy talle versoeke om resepte gekry het, het Liezie dié langverwagte boek bekendgestel – en dit bevat iets vir elke smaak. Anytime (R450; Quivertree) spog met geregte van restaurant-gehalte, fyngebak en ’n fantastiese brood-afdeling. Markus, Liezie se lewensmaat en vennoot, is immers ’n bobaasbakker. Njam!

Tjorts!

Boplaas Family Vineyards op Calitzdorp het Suid-Afrika se eerste premium port-deurtrekte jenewer (R348) beskikbaar gestel. Dit spog met ’n lieflike pienk kleur en intense aromas en geure van jenewer- en rooi bessies, asook lemoenskil. Kry Boplaas se sonderlinge brandewyn, whisky en jenewer by die kelder, uitgesoekte winkels of boplaas.co.za. Bestellings van meer as R1 000 word gratis afgelewer in Suid-Afrika.

Mooi netjies!

Stel van drie pastelkleurige keramiekhouers R269,99, mrphome.com

Tog te skattig

Le Creuset se Baby Collection het die pragtigste, funksionele geskenke vir nuwe ouers; kyk net hoe oulik is dié stel Baby Bear & Car-ramekins (R254, lecreuset.co.za).

Sjokolade-geheim

Le Chocolat Pinotage (R55, grandeprovence.co.za) van Grande Provence op Franschhoek is ’n maklik drinkbare rooiwyn met ’n sjokolade-kinkel. Die wynmakers gebruik geroosterde Franse eikehout in die wynmaakproses vir daardie kenmerkende geur van ryp pruime en rooi bessies eie aan die pinotage-druif. Aankope van 24 bottels of meer word gratis afgelewer in Suid-Afrika.

Nuut! Dubbel so goed

Willow Creek Extra Virgin Olive Oil & Virgin Coconut Oil Blend (vanaf R150 vir 500 ml; willowcreek.co.za) kombineer hul bekroonde olyfolie met klapperolie uit Mosambiek. Jy kan so baie daarmee doen, van diepbraai tot bak!

Gelukkige Moedersdag!

Bederf jou ma met ’n skyf nougat met bosbessies en pistasieneute van Woolworths (R49,99, woolworths.co.za)