1 UIT DIE HART

Saam (R350, Struik Leefstyl) is die huiskos-kampioen Errieda du Toit se uitsonderlike kookboek oor resepte uit gemeenskapsresepteboekies. Errieda het geput uit 150 boekies wat oor 100 jaar uitgegee is. Die resepte is ruimhartig, gasvry en vol warmte – soos die huiskokke wat dit oorspronklik gedeel het. Al die immergroenes, die flatervryes, kos vir oor-en-weer-kuiers en retro-gunstelinge wat ons as erfeniskos koester, is daar. Met die regte balans tussen nostalgie, modernisering van ou resepte en boeiende vertellinge is Saam vir almal wat nuuskierig en entoesiasties is oor Suid-Afrikaanse kos.

2 Diep beïndruk

Dié mooi 12cm-Lilies-bakkie (R49, home.co.za) maak jou kosskepping ‘n kuns!

3 VIER DIE MYLPAAL

Roodeberg vier sy 70ste jaar met die bekendstelling van 1949 (R249, KWV Emporium) in ’n beperkte oplaag. Dis ’n gekonsentreerde, diep robynrooi versnit met gul aromas van donker kersie, swart­bessie en vanielje – ’n toeganklike wyn, maar kompleks genoeg om goed te verouder. Gesondheid!

1 NES IN japan

Staan opsy, fondue – Grills of Japan voer nou Japannese Shichirin- en Konro-roosters in! Dié draagbare, liggewig-roosters, wat jy sommer op jou tafel in die huis staanmaak, het  uitstekende hitte-houvermoë. Dis ideaal vir gesellige kuiers waar gaste hul eie kos gaarmaak en verskaf ure se pret. Besoek grillsofjapan.com vir nog inligting of om te bestel. Hida Konro-rooster R1 050

Foto Claire Gun

2 Goeie nuus as jy van melkkoffie hou: Nespresso, die leier in afgemete koffie, het pas sy Barista Creations-reeks bekendgestel. Dis ontwerp om met melk geniet te word – kies tussen Chiaro (“lig” in Italiaans), Scuro (“donker”) en Corto (“kort”) wanneer jy ’n melkerige koffie by die huis wil geniet nes jy daarvan hou. Besoek buynespresso.com.

3 ’n Vrou van inbors

Die Britse joernalis en wynmeester Tim Atkin het die Bon Courage Lady of the House Pinotage Rosé 2019 (R68, boncourage.co.za) aangewys as Beste Waarde-Rosé in sy South Africa 2019 Special Report. Dit was ook die nasionale top-rosé by die Novare SA Terroir-prysaand. Dié rosé in die droë styl bring hulde aan Ouma Maude van die eerste geslag Bruwers op Bon Courage. 

4 Kom eet saam

Pierneef à La Motte- restaurant nooi gaste uit om hul maaltye te begin met gedeelde geregte geïnspireer deur ons ryk kulinêre erfenis, soos brood, smere, slaaie en vleis. Voorgeregte kom met staatmakers uit Ouma se spens: gepekelde of ingelegde vrugte en groente, chakalaka of blatjang, kaiings of kluitjies. ’n Gedeelde voorgereg en hoofmaaltyd kos R335 per persoon (nageregte kan as ’n ekstra gang bestel word). Of kies ’n Wynland-kaasbord of seisoenale Plaasbord teen R150 per persoon, wat ’n glas wyn insluit. Hulle is van Dinsdag tot Sondag oop vir middagete; sien meer by la-motte.com.