1. BORSKANKER- BEWUSTHEIDSMAAND

Vanaf 1 Oktober word R1 van elke pienk 250 g-houer heel en gesnyde dwergsampioene wat landwyd by Pick n Pay takke verkoop word, aangewend om silikoonprosteses te verskaf aan vroue wat deur borskanker geraak word en nie rekonstruksie ná ’n operasie kan bekostig nie. Vind meer uit oor dié gesamentlike projek deur die Suid-Afrikaanse Sampioenboerevereniging, Pick n Pay en Thermopac by mushroominfo.co.za.

2. Kuslangs

Met elke teug van Spier se Seaward Chardonnay 2018 en Seaward Shiraz 2017 (R110 elk) kan jy proe waarom dit voordelig is om wyndruiwe langs die kus te verbou. Spier se wynmakers, met keldermeester Frans Smit aan die stuur, kies die druiwe vir dié wyne uit ’n smal kusstrook tot25 km van die ysige Atlantiese Oseaan af, met invloede van die gematigde waters in Valsbaai.“Die vrugtegeure is suiwer, goed gekonsentreer– met net die regte balans en afronding,” sê Frans. “Vanweë die nabyheid van die see spog albei wyne met ’n soutige mineraliteit.” Besoek spier.co.za.

3. VLEISPALEIS!

Die ikoniese Grande Roche-hotel in die Paarl het nuwe eienaars, ’n nuwe restaurant én ’n vars voorkoms in al hul luukse suites. Die nuwe restaurant, Viande (dis Frans vir vleis), is die breinkind van Pete Goffe-Wood, Suid-Afrika se geliefde “Kitchen Cowboy”, en dié eetplek fokus op vleis in al sy gedaantes – propvol smaaklike verrassings. Besoek granderoche.com.

1. ’n Bêre-bundel van formaat

Die VLV-kookboek (R350, Human & Rousseau), is pas op die rak, en bied ’n keur uit die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland se flatervrye resepte-versameling, saamgestel ter viering van hul 90ste bestaansjaar. Trakteer jou gesin met toeka se familietreffers soos kerrievis, skaapboud, lewerkoekies en koekstruif; of kies byderwetse, wulpse pampoenmuffins, spinasiegebak of peer-en-bloukaasslaai.

2. Yskoue bederf

Frost Popsicles (vanaf R24 elk) word gemaak van 100% suiwer vrugtesap, wat dit suiwelvry en dus vegan-vriendelik maak. Boonop is die verpakking 100% herwinbaar, so jy kan terselfdertyd jou deel vir die omgewing ook doen! Dit kom in twee geure: perske, aarbei en piesang; en granaat, pomelo en hibuskus – heerlik! Besoek  frostpopsicles.com vir ’n lys verskaffers.

3. Pot se deksel!

Thingamajig-kantelknaap van silikoon (stel van twee) R29,99, crazystore.co.za

4. GESKENKIE VIR JOU

Kaasmesstel met satynkoper-handvatsels R450, woolworths.co.za 

1. Vat vier

Pak van vier Michael Chandler-ontwerpervadoeke, R119,99, vanaf 10 Oktober te kry by mrphome.com

2.  JOU SOETSTE PARTYTJIEMAAT

Seedlip (R249 vir 200 ml) is die wêreld se eerste gedistilleerde nie-alkoholiese drankie – die perfekte oplossing vir wanneer jy verantwoordelik wil saamkuier. Seedlip Garden 108 het gesofistikeerde geure van handgeplukte ertjies en hooi met ’n kruie-basis van groenment, roosmaryn en tiemie. Seedlip Spice 94 is aromaties met sterk note van speserye (pimento en kardemom) en sitrus (suurlemoen- en pomeloskil), en die bitter geure van topgehalte-boombas (eik en kaskarilla). Albei proe op hul beste saam met tonikum of as die basis vir ’n martini. Sien meer by seedlipdrinks.com.

3. Blikkantien

Heidi J Design se nuwe Gin Tins (R160 elk) is ’n wonderlike geskenk vir jenewer-liefhebbers.Die blikkies kom in drie ontwerpe en bevat elk 10 bestanddele (soos steranys, lemoenskywe en rooswater) wat jy kan gebruik vir jenewer-infusies of in mengeldrankies. Kry dit in Oktober by die Stellenberg-mark in Durbanville, of die Mosaïek Expo in Johannesburg. Sien facebook.com/heidijdesign