1. TA-DA! ONS EIE KOOKBOEK IS HIER!

Ta-Da! (R290, Sunbird) bevat die beste resepte uit Tuis se toetskombuis – alles maklike, toeganklike resepte wat moeilik lyk, maar eintlik doodmaklik is om te maak. Die vier hoofstukke sluit alles in van ligte somermaaltye tot koesterende winterkos met spoggerige voorgeregte, liplekker nageregte en uithaal-en-wys-onthaalkos tussen-in. Dit was nog nooit so maklik om jou gaste te beïndruk nie!

2. Veganisties

Het jy geweet dat dierprodukte soos gelatien soms in die tradisionele wynmaakproses gebruik word om die vloeistof te verhelder voor bottelering? Delheim se 2018 Pinotage Rosé en Sauvignon Blanc is nou trots veganisties – ’n klei met die naam bentoniet en plantaardige proteïen word tydens die maak van dié gunstelinge gebruik. Besoek delheim.com.   

3. Kontinentaal

Africa-kaasbord van verweerde eikehout deur die Laid Back Company R659, yuppiechef.com

4. BESTE MAATS MET BILTONG

Op die Alto-wynlandgoed in Stellenbosch kan jy nou proe hoe hul vyf rooiwyne maats maak met biltong; geniet dié watertand-ervaring teen R110 per persoon. Elke paring is ontwerp om ’n besondere eienskap van die wyn na vore te bring. Kyk by alto.co.za.

5. Fauna en flora

’n Nuweling in die Jordan-wynlandgoed se Chameleon-reeks is die 2017 Chenin Blanc (R69 by die kelder), met geure van peer en sitrus. Op die etikette verskyn die Kaapse dwergverkleurmannetjie saam met inheemse plante van die Kaapse wynland, soos die Chrysanthemoides monilifera, ’n vinnig groeiende struik met geel madeliefies in die herfs en winter. Besoek jordanwines.com.

1. ’n Wolwefluit werd

Die Little Wolf-brouery maak ’n reeks mooi gebottelde boetiek-siders (ook ’n nie-alkoholiese Virgin Cider), -biere, -sodas en  -tonikums. Van hul produkte is aanlyn by yuppiechef.com te kry, of vind jou naaste verskaffer by littlewolfbrewery.co.za

2. Pas uit die vate!

Lourensford The Dome Pinot Noir 2017 (R135; lourensford.co.za) is die landgoed se tweede aanbod van dié roemryke Boergondiese kultivar – en daar is net 6 700 bottels beskikbaar! Nadat die wyn 13 maande lank in eikehoutvate deurgebring het, het die sysagte oesjaar ’n robynrooi kleur en lieflike aromas van kersie en aarbei met ’n tikkie spesery. Die keldermeester, Hannes Nel, beveel aan jy sit dit effens verkoel voor met vis soos salm en tuna, of hoender, eend of wildsvleis.

3. SMAAKLIKE UITSIG!

Zeitz MOCAA FOOD, ’n eetplek op Vlak 6 van die herboude silo’s in die V&A Waterfront, is net die plek vir ’n happie wanneer jy die museum besoek (Woensdag tot Maandag, 10:00–16:00). Geniet ’n asemrowende uitsig op Kaapstad en ’n eenvoudige dog elegante spyskaart met heerlike bistro-geregte en unieke bederfies soos ’n swart vanielje-en-rooswaterroomys wat met geaktiveerde houtskool gekleur is. Die lokaal kan vir funksies saans bespreek word. Besoek zeitzmocaafood.com.

4. Tuis bes!

Jy hunker na jou gunsteling-smaak, maar die windjie waai so skraal en die laaste ding waarvoor jy kans sien, is uitgaan. Geen probleem nie! Woolworths het nou ’n reeks maaltye wat jou proeknoppies gelukkig sal hou – by jou huis. Dink net: Chinese varkrolletjies, Indiese blomkoolkorma of Koreaanse gebraaide kortrib ... Koop aanlyn by woolworths.co.za

5. VIER BY VIER

Van Der Linde Restaurant (VDL) by 4de Laan 50, Linden, Johannesburg, is genoem na dié voorstad se stigter, Johannes van der Linde. Die onderneming bestaan uit vier dele: die bakkery en deli, ’n jenewer-en-vrugtesapkroeg, ’n restaurant, en ’n wynwinkel met ’n puik voorraad. Die mense sê hul bou-jou-eie-ontbyt is tops! Sien vdl.restaurant.

6. Kry vir jou

Seshoekige Chevron-houtskinkbord R299, mrphome.com