Maak 2 kranse

Het jy geweet?

Challah (die woord is Bybels van oorsprong) is ’n spesiale brood in die Joodse kookkuns. Dit word gewoonlik gevleg en tipies geëet tydens seremoniële geleenthede soos die Sabbat en belangrike Joodse vakansiedae.

Bron Wikipedia

Bestanddele

• 20g kitsgis

• 625ml louwarm water

• 125 ml heuning

• 125ml olyfolie

• 15 ml sout

• 2 eiers

• 5ml fyn kaneel

• 150g donkersjokolade, gekap

• 60 ml sultanas

• 1kg broodmeel, plus 250ml

AFRONDING

• 1 eier, geklits

• 30ml sesamsaad

Maak die deeg

1 Giet die water in ’n groot bak en roer die gis by. Klits die heuning, olie, sout, eiers, kaneel, sjokolade en sultanas by tot goed deurgemeng.

2 Voeg die meel een koppie op ’n slag by; klits ná elke byvoeging en begin knie met jou hande wanneer die deeg begin stywer word.

Let wel Brood wat met eiers en suiker verryk is neem ’n bietjie langer om te rys as gewone brood-deeg, en dit knie ook ’n bietjie moeiliker.

3 Knie die deeg tot glad en elasties en nie meer klewerig nie; strooi meel oor soos nodig.

4 Vorm die deeg in ’n bal, sit dit in ’n geoliede mengbak en bedek met kleefplastiek of ’n klam, skoon vadoek; laat rys vir 1½ uur of totdat dit in grootte verdubbel het.

Vorm die challah

5 Knie die deeg liggies af, verdeel dit in twee en verdeel dan elke helfte in drie dele.

6 Rol elk van die drie dele met jou hande uit in ’n lang wors, druk die ente by een punt aan mekaar vas en begin vleg.

7 Vorm elkeen van die vlegsels in ’n sirkel en knyp die punte bymekaar. Smeer twee bakplate en sit ’n krans op elkeen. Bedek met ’n vadoek en laat dit sowat ’n uur staan om te rys. Voorverhit die oond tot 180 °C.

8 Verf die brood met geklitste eier en strooi die sesamsaad oor net voor dit oond toe gaan. Bak vir sowat 30 minute of tot goudkleurig bo-op. Die challah moet hol klink as jy aan die onderkant klop.