Maak 1 x 20 cm-koek

CRÊPE-BESLAG

• 4 eiers

• 500 ml meel

• 125 ml olie

• 30 ml brandewyn

• 600 ml volroommelk

• 1 eetlepel suiker (opsioneel)

• ’n knippie sout

BAKKERSVLA

• 750 ml volroommelk

• ’n kaneelstokkie

• 4 eiergele

• 125 ml bruinsuiker

• 25 ml mielieblom

• ’n paar druppels vanielje-ekstrak

• ’n knippie sout

Maak die crêpes

1 Klits al die bestanddele vir die crêpe-beslag saam tot glad, giet dit deur ’n sif en laat rus vir 30 minute tot 1 uur in die yskas.

2 Verhit ’n dun pan, sowat 20 cm in deursnee, en spuit dit goed met kleefwerende kossproei of smeer dit met ’n bietjie olie. Skep net genoeg beslag in die pan om die bodem te bedek; kantel die pan om die beslag oor die bodem te versprei en sit die pan terug op die hitte. Bak sowat ’n minuut of totdat die beslag begin borreltjies maak en van die rand af wegtrek. Draai die pannekoek om en braai nog sowat 30 sekondes. Keer uit en herhaal met die res van die beslag.

Wenk Vir ’n bros crème brûlée-bokant op jou crêpe-koek, strooi 5 ml bruinsuiker oor die oppervlak van die laaste pannekoek voor jy dit omkeer. Die suiker sal heerlik karamelliseer sonder dat jy ’n blaasvlam hoef te gebruik! Hou die brûlée-pannekoek eenkant.

Maak die bakkersvla en stapel die koek

3 Verhit die melk en kaneel saam tot net onder kookpunt, haal van die hitte af en laat staan ’n paar minute om te trek. Klits intussen die res van die bestanddele saam tot gemeng. Klits dan die warm melk in ’n dun straaltjie by die eiermengsel, vee die melkkastrol met kombuispapier uit en giet die vla terug in die kastrol.

4 Bring die vla stadig tot kookpunt terwyl jy eers met ’n ballonklitser klits en dan met ’n houtlepel roer. Kook tot die vla “gaar” is (sowat twee minute), want vla wat nie lank genoeg gekook het nie, het ’n melerige smaak. Toets dit só: As die vla die agterkant van ’n lepel bedek en jy met jou vinger ’n lyn daardeur kan trek, is dit gaar.

5 Verwyder die kaneelstokkie en skep dadelik die vla uit in ’n bak (as dit in die kastrol bly, kan die behoue hitte dit laat skif). Sit ’n velletjie kleefplastiek direk op die vla-oppervlak om te keer dat ’n vel vorm, en laat staan tot afgekoel.

6 Smeer dan ’n lepel vla op die eerste pannekoek, volg met nog ’n pannekoek en vla. Herhaal tot al die vla en pannekoeke gebruik is; sit die brûlée-pannekoek bo-op. Versier met bessies en sit voor in skywe.

Daar is ’n magdom variasies op die klassieke crêpe-beslag, maar ek hou meestal by my ma se resep wat ’n eetlepel brandewyn bykry. Toe ek haar vra hoekom, het sy eenvoudig gesê my ouma Jonni het dit so gemaak! Hoewel ek die voorgeskrewe knertsie brandewyn al noodgedwonge met whisky (een keer selfssjerrie) vervang het, hou ek so ver moontlik daarby. As jy dit moet vervang, voeg ’n lepeltjie vanieljegeursel of vars suurlemoensap by die beslag.